Fresh out of the Zoo

Van die Oos-Rand tot op die Afrikaanse musiektoneel: Tiaan Koekemoer verruil die alledaagse gejaag vir lekker ritmes, goeie geselskap en ’n liedjie wat jou sommer na die naweek laat verlang. 

Wat beteken DKW vir jou? Vir sommige is dit dans, werk en kerk. Vir ander is dit daardie spesiale meisie, ’n gunstelinguitrusting of sommer enigiets waarsonder die lewe net nie dieselfde sou wees nie. Nou gee die Oos-Randse sanger Tiaan Koekemoer dié bekende Afrikaanse uitdrukking ’n vars, speelse betekenis met sy debuutenkelsnit, “DKW”. ’n Energieke Afrikaanse popliedjie wat luisteraars uitnooi om die week se bekommernisse opsy te skuif en die lewe ’n bietjie meer te geniet. 

Met ’n aansteeklike ritme, ’n melodie wat lank ná die laaste noot in jou kop bly draai en lirieke waarmee Suid-Afrikaners maklik kan vereenselwig, is “DKW” gemaak vir daardie oomblikke wanneer die werkweek verby is, die kole begin gloei en die kuier saam met vriende eers behoorlik afskop. 

Die liedjie, geskryf deur Hugo Ludik en Nicholas Jordaan, speel met ’n uitdrukking wat diep in die Afrikaanse kultuur gewortel is, maar gee dit ’n moderne, tong-in-die-kies-kinkel. 

“DKW is iets waarmee baie Afrikaanssprekendes grootgeword het, maar in hierdie liedjie kan jou DKW enigiets wees wat jou gelukkig maak. Dalk is dit daardie meisie op wie jy verlief is, of dalk is dit jou gunstelingklere. Ek wil hê mense moet die liedjie aansit, ontspan en sommer net die lewe geniet,” vertel Tiaan. 

Vir die 32-jarige musikant, wat in die Oos-Rand gebore is en steeds daar woon, is hierdie vrystelling veel meer as net nog ’n liedjie. Dit is die verwesenliking van ’n droom wat oor die afgelope ses jaar stadig maar seker vorm aangeneem het. 

Bedags werk Tiaan as ’n tekenaar (draughtsman), maar wanneer die werksdag verby is, neem sy liefde vir musiek oor. Sy musikale reis het reeds op skool begin toe sy ma hom leer kitaar speel het. Dit was egter eers in 2020 dat hy die eerste keer die moed bymekaargeskraap het om voor ’n gehoor op te tree. 

Sedertdien het sy passie vir Afrikaanse musiek net sterker geword. 

“Musiek was nog altyd deel van my lewe. Of ek nou gou winkel toe ry of die langpad Kaap toe aanpak, daar speel altyd musiek. Dit help my om van die wêreld se probleme te vergeet. Vir my is musiek kos vir die siel.” 

Hoewel Tiaan nog aan die begin van sy opname-loopbaan staan, het hy reeds ’n besondere musikale hoogtepunt beleef toe hy die geleentheid gekry het om saam met twee van sy grootste inspirasies, Karen Zoid en Francois van Coke, te sing. 

Dit is juis kunstenaars soos Zoid, Van Coke, Riaan Benade, Spoegwolf en Jan Blohm wat hom geïnspireer het om sy eie plek in die Afrikaanse musiekbedryf te probeer vind. Sy musieksmaak strek van die rou eerlikheid van Afrikaanse rock tot die lekker saam-sing-energie van kunstenaars soos Appel, Snotkop en Ricus Nel. 

Maar agter die opgewekte musiek en ontspanne persoonlikheid skuil ook iemand wat weet dat ’n loopbaan in die musiekbedryf nie oornag gebeur nie. 

“Een van die grootste uitdagings is om jou naam daar buite te kry en mense te oortuig om jou ’n kans te gee. Die afgelope paar jaar het my geleer om nederig te bly en nooit op te gee nie,” sê hy. 

Vir Tiaan gaan musiek egter oor veel meer as erkenning of sukses. Dit gaan oor die vermoë om mense bymekaar te bring, herinneringe te skep en selfs iemand se dag ’n bietjie beter te maak. 

“Om op ’n verhoog te staan en te hoor hoe mense jou liedjie saamsing, is vir my een van die grootste eerbewyse. Ek glo musiek kan ’n werklike verskil in mense se lewens maak. Dit kan hoop gee en jou vir ’n oomblik laat vergeet van die alledaagse gejaag.” 

Wanneer hy nie werk of musiek maak nie, geniet Tiaan die buitelewe. Visvang, jag en tyd saam met sy familie en vriende is van sy gunstelingmaniere om af te Skakel – dieselfde ontspanne, eg Suid-Afrikaanse leefstyl wat ook die hart van “DKW” vorm. 

Met sy eerste enkelsnit wil Tiaan homself nie net as ’n nuwe stem in Afrikaanse pop bekendstel nie, maar ook wys dat musiek nie altyd ingewikkeld hoef te wees om ’n indruk te maak nie. Soms is ’n lekker ritme, ’n goeie melodie en ’n storie waarmee mense kan identifiseer presies wat nodig is. 

“DKW” is ’n viering van die eenvoudige dinge wat die lewe lekker maak. Goeie vriende, lekker musiek, ’n bietjie liefde en daardie eerste oomblik wanneer jy besef die naweek het uiteindelik aangebreek. 

En as Tiaan sy sin kry, gaan Suid-Afrikaners binnekort nie net oor hulle DKW praat nie, maar ook daaroor saamsing. 

Die DKW is nou beskikbaar op alle aanlyn platforms.

Share this article

Recent News

Die lewe hoef nie perfek te wees om mooi te wees nie – Onike bring ’n boodskap van hoop 
19Nov

Die lewe hoef nie perfek te wees om…

In ’n wêreld waar mense dikwels so besig is om…

’n Lekker ritme, ’n bekende uitdrukking en ’n nuwe stem: Tiaan se “DKW” is hier. 
19Nov

’n Lekker ritme, ’n bekende uitdrukking en ’n…

Van die Oos-Rand tot op die Afrikaanse musiektoneel: Tiaan Koekemoer…

Jou lewe, jou pas, jou pad: Weán van der Westhuizen maak geraas met REBEL.
23Oct

Jou lewe, jou pas, jou pad: Weán van…

Weán van der Westhuizen se nuwe Afrikaanse enkelsnit, REBEL, gee…