Onike vind haar krag ná die storm met haar nuwe enkelsnit Sterker.
Soms kies ‘n mens nie die storms wat oor jou pad kom nie. Jy kies net wat jy daarna met die stukke doen.
Vir Onike is haar nuwe enkelsnit, Sterker, veel meer as net nog ‘n vrystelling. Hoewel sy nie self die lied geskryf het nie, het die woorde onverwags naby aan haar eie lewensverhaal gekom. ‘n Verhaal van trauma, verlies, genesing en die ontdekking dat ‘n mens soms eers ná die donkerste hoofstukke besef hoeveel krag daar werklik in jou steek.
“Ons almal dra iets saam met ons,” sê Onike. “Vir party is dit verlies. Vir ander teleurstelling, angs of net die gevoel dat hulle nie meer weet hoe om vorentoe te beweeg nie. Sterker is vir daardie mense.”
Die lied, geskryf deur Andrea en Armand Espach beter saam bekend as die groep Skemer, het sy oorsprong in ‘n eenvoudige waarheid: pyn hoef nooit die laaste hoofstuk van jou storie te wees nie.
Met eerlike lirieke en ‘n moderne Afrikaanse pop-klank vertel Sterker die verhaal van iemand wat deur moeilike omstandighede stap, maar langs die pad ontdek dat hoop nie verdwyn wanneer die storm opsteek nie. Soms word dit juis daar gevind.
Dit is ‘n waarheid wat Onike uit eie ervaring leer ken het.
As jong kunstenaar het sy destyds in Pretoria aangekom met groot drome en ‘n hele lewe wat voor haar gelê het. Sy was jonk, verlief en opgewonde oor die toekoms. Een aand het sy uitgegaan vir wat bloot ‘n lekker, sorgvrye aand moes wees. Sy het geen rede gehad om te dink dat sy in gevaar was of dat enigiets verkeerd sou loop nie.
Maar dié aand het in die grootste nagmerrie van haar lewe ontaard toe hulle aangeval is.
Wat gevolg het, was nie net die verwerking van wat daardie aand gebeur het nie, maar ‘n veel langer emosionele reis. Sy moes leer om weer veilig te voel, om weer te vertrou en om haar lewe terug te neem sonder om toe te laat dat een traumatiese gebeurtenis bepaal wie sy vir die res van haar lewe sou wees.
Haar pa is onlagns ná sy stryd teen kanker oorlede. Vir Onike was hy nie net haar pa nie. Hy was haar held, iemand na wie sy haar hele lewe lank opgekyk het en wie se liefde, krag en ondersteuning ‘n vaste deel van haar wêreld was.
Om hom te verloor, het ‘n leemte gelaat waarvoor daar nie maklik woorde is nie.
“My pa was my hero,” sê sy. “Hy was nog altyd iemand na wie ek opgekyk het. Hy was vir my ‘n voorbeeld van krag en iemand op wie ek kon staatmaak. Om hom aan kanker te verloor, was een van die seerste dinge waardeur ek nog moes gaan. Ná alles wat ek reeds met die aanval en die pad daarna moes verwerk, het sy dood my weer op ‘n heel ander manier gebreek.”
Dit is teen hierdie agtergrond dat Sterker vir Onike so ‘n besondere persoonlike betekenis gekry het.
“Ek het nie self Sterker geskryf nie, maar toe ek die lied hoor, het dit gevoel asof Andrea en Armand woorde gegee het aan soveel van dit waardeur ek self gegaan het. Die lied praat met daardie deel van jou wat weet hoe dit voel wanneer die lewe jou platslaan, maar ook met die deel wat uiteindelik besluit om weer op te staan.”
Vandag kyk sy anders na die pad wat agter haar lê.
“Ek sou nooit die dinge gekies het wat met my gebeur het nie, en ek sou enigiets gee om my pa steeds hier te hê. Maar alles waardeur ek gegaan het, het my gevorm. Die aanval het my gewys hoeveel krag dit verg om jou lewe terug te neem, en my pa het my geleer wat ware krag beteken. Selfs nou dat hy nie meer hier is nie, dra ek dit wat hy my geleer het elke dag saam met my.”
Vir haar beteken sterker wees nie dat die pyn verdwyn of dat ‘n mens vergeet wat gebeur het nie.
“Sterker beteken nie vir my dat niks jou meer seermaak nie. Dit beteken dat jy seerkry en steeds aanhou. Dat jy gebreek kan voel en tog weer opstaan. Ek het deur dinge gegaan wat ek op daardie stadium nie geweet het hoe ek sou oorleef nie, maar vandag kan ek terugkyk en besef: dit het nie die einde van my storie geword nie. Ek is steeds hier. En ek is sterker as wat ek ooit gedink het ek kan wees.”
Vir Onike lê die hart van Sterker daarin dat ander mense hul eie stories in die woorde sal herken.
“Ons storms lyk nie almal dieselfde nie. Vir iemand is dit trauma, vir iemand anders die dood van ‘n geliefde, teleurstelling, angs of ‘n tyd waarin alles net te veel voel. Ek hoop mense hoor nie net die lied nie, maar herken hulself daarin. As iemand ná drie minute weer ‘n bietjie moed kry om aan te hou, dan het hierdie lied reeds sy doel bereik.”
Musiek het deur Onike se eie donkerste tye ‘n belangrike rol gespeel.
“Van kleins af was musiek vir my ‘n plek waar ek emosies kon verwerk. Dit het my al baie keer opgetel wanneer ek nie noodwendig die woorde gehad het vir wat ek voel nie. Ek sing Sterker nie omdat ek al die antwoorde het nie. Ek sing dit omdat ek weet hoe dit voel wanneer die lewe jou platslaan, en ek weet vandag ook dat dit moontlik is om weer op te staan.”
Die musiekvideo, vervaardig deur Agter die Mic, is doelbewus klein en intiem gehou. Dit is by ‘n privaat woning geskiet waar natuurlike lig, rou emosie en eenvoudige beelde die verhaal dra. Die fokus val nie op groot produksiewaarde nie, maar op iets waarin kykers hulself kan herken – ‘n reis van gebrokenheid na genesing.
Onike se sagte, toeganklike styl word gekenmerk deur eerlike emosie en ‘n boodskap van hoop – iets wat sy glo mense vandag meer nodig het as ooit tevore.
Benewens nuwe oorspronklike musiek wat reeds in wording is, berei Onike haar ook voor vir optredes by feeste soos Glimlag Fees en Midstream Springfest.
“Die musiekbedryf het my geleer dat talent jou by die deur kan bring, maar deursettingsvermoë hou jou daar. Elke uitdaging leer jou iets, as kunstenaar én as mens.”
Met Sterker stel Onike nie net ‘n nuwe lied bekend nie. Sy deel ‘n boodskap wat deur haar eie lewenservarings besondere betekenis gekry het.
Van ‘n jong kunstenaar wat in Pretoria aangekom het en wie se sorgvrye aand in ‘n nagmerrie ontaard het, tot die lang pad van verwerking wat daarop gevolg het. En later, die hartverskeurende verlies van haar pa – haar held – aan kanker.
Dit alles vorm deel van haar verhaal, maar dit is nie waar haar verhaal eindig nie.
Want Sterker gaan nie daaroor dat die storms nooit gekom het nie. Dit gaan oor wat gebeur wanneer jy, ten spyte daarvan, weer opstaan. Wanneer jy die mense wat jy verloor het saam met jou dra. Wanneer jy besef dat die dinge wat jou gebreek het, nie die dinge hoef te wees wat jou definieer nie.
Onike het deur trauma gestap. Sy het verlies geken. Sy het haar held verloor.
En tog het sy aangehou.
Nie onaangeraak nie. Nie onveranderd nie.
Maar Sterker.