Ná 20 jaar volg Cordelia steeds haar hart met haar nuwe country-enkelsnit, Country Heart
Na twee dekades in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf vier die Afrikaanse- en countrysangeres, Cordelia, ‘n besonderse mylpaal met die vrystelling van haar splinternuwe oorspronklike enkelsnit, Country Heart. Met dié liedjie vang sy haar liefde vir countrymusiek opreg en eerlik vas.
Vir Cordelia is Country Heart veel meer as net nog ‘n enkelsnit. Dit is die musikale weerspieëling van wie sy is en die pad wat sy al jare lank stap.
“Ek het hierdie lied geskryf omdat ek my liefde vir countrymusiek met mense wil deel. Dit gaan daaroor om jou hart te volg en getrou te bly aan dit waarin jy glo.”
Met sy moderne country-klank, Suid-Afrikaanse aanslag en energieke produksie sal Country Heart luisteraars sommer van die eerste noot af in ‘n goeie bui sit. Dit is die soort lied wat jou laat glimlag, jou voete laat beweeg en jou sommer lus maak om saam te lyndans.
Cordelia glo die enkelsnit sal aanklank vind by oud én jonk.
“Countrymusiek het iets besonders. Dit vertel stories waarin mense hulself kan herken, en ek hoop Country Heart gee mense dieselfde gevoel van vreugde en vryheid wat dit vir my gee.”
Hoewel die lied lig en feestelik is, bly haar grootter doel met musiek onveranderd.
“Ek wil graag mense se harte aanraak, hoop gee en hulle herinner dat musiek mense kan optel wanneer woorde nie genoeg is nie.”
Hierdie boodskap dra selfs meer betekenis nadat sy onlangs haar ma aan pankreaskanker verloor het – ‘n persoonlike verlies wat haar lewe diep geraak het. Ten spyte van die moeilike tyd kies sy steeds om haar hart te volg en aan te hou musiek maak.
“Die afgelope paar jaar het my geleer om nooit op te hou glo in waarvoor jy geroep is nie. Daar is mense wat genesing, hoop en troos deur musiek vind.”
Cordelia se liefde vir musiek begin reeds op vierjarige ouderdom. Haar ouers het haar van kleins af aan musiek blootgestel, en sy het vroeg reeds aan sangkompetisies begin deelneem. Vanjaar vier sy 20 jaar sedert die vrystelling van haar eerste album. ‘n Mylpaal waarop sy met dankbaarheid terugkyk.
Country-kunstenaars soos Carrie Underwood het ‘n groot invloed op haar eie styl gehad, en indien sy ooit een droomduet kon kies, sou dit saam met Keith Urban wees.
Country Heart se musiekvideo is by Sound Ninja in Pretoria verfilm en vang die energie van ‘n regstreekse country-optrede vas. Met ‘n industriële pakhuis-agtergrond en die kreatiewe span van Sound Ninja en Julius Bekker agter die kameras, bied die video ‘n rou, egte en lewendige country-atmosfeer.
Wanneer sy nie musiek skryf of optree nie, droom sy daarvan om eendag voltyds met kinders in kinderhuise te werk en soveel moontlik liefde en ondersteuning aan hulle te gee.
Vir eers is haar fokus egter op nuwe musiek. Benewens Country Heart werk sy reeds aan ‘n splinternuwe Afrikaanse album en beplan sy ‘n toer regoor Suid-Afrika.
Haar gunsteling-aanhaling som haar benadering tot musiek perfek op: “Musiek sê wat woorde nie altyd kan nie.”
Met Country Heart doen sy presies dit. ‘n Opregte countrylied wat nie net haar liefde vir die genre vier nie, maar ook luisteraars herinner om hul eie hart te volg.
Country Heart is nou beskikbaar op alle aanlyn platforms.