Fresh out of the Zoo

(Feb 2026)

HENRY VAN DYK SE NUWE VRYSTELLING “GOODNESS OF GOD” BRING ’N KRAGTIGE BOODSKAP VAN HOOP EN RUS

Henry van Dyk keer terug met ’n nuwe musiekvrystelling wat hoop, vertroosting en geloof sentraal plaas. Met “Goodness of God”  bied die Suid-Afrikaanse sanger-liedjieskrywer ’n tydlose en diep roerende lied wat luisteraars herinner aan God se konstante teenwoordigheid, onvoorwaardelike liefde en onwrikbare getrouheid — veral in onseker en moeilike tye.

Die kontemporêre aanbiddingslied spreek tot die hart en bevestig dat, ongeag die persoonlike omstandighede of donker seisoene waarin ’n mens jou mag bevind, God altyd daar is. Hy stap die pad saam met ons, gee krag in moeilike tye en laat ons nooit alleen nie. In goeie én slegte tye bly Hy getrou.

“Goodness of God” is geskryf deur Ed Cash, Ben Fielding, Jason Ingram, Brian Johnson en Jenn Johnson. Die lied is geïnspireer deur Jenn Johnson se persoonlike ervaring tydens die aannemingsproses van haar vierde kind. Tydens ’n rit op ’n grondpad het sy die melodie en woorde spontaan begin sing en dit sommer op haar selfoon opgeneem. Die lirieke is sterk gegrond op Psalm 23:6, wat getuig van God se goedheid en trou wat ons ons hele lewe lank volg.

Volgens Henry dra die lied ’n besonderse kragtige boodskap van hoop en rus. Met ’n nuwe musikale verwerking, onder die kunstige leiding van Christie Schutte, hoop hy dat “Goodness of God” luisteraars weer sal inspireer om vas te hou aan God se beloftes, Sy teenwoordigheid te soek en vrede te vind in die wete dat Hy nooit moed opgee op ons nie. Die lied is vervaardig en opgeneem deur Christie Schutte van StarTrax Recording Studio.

“Ek hoop my musiek kan mense se harte raak en hulle na ’n beter plek in hul gedagtes lei,” sê Henry. “My droom is dat mense beter sal voel oor die lewe en oor hulleself nadat hulle na my musiek geluister het. Musiek moet positief en terapeuties wees.”

’n Besonderse aspek van hierdie vrystelling is die samewerking met die dramatiese sopraan Charlotte Benjamin, saam met wie Henry reeds vir baie jare ’n sterk musikale pad stap. Die twee tree gereeld saam op by funksies, en volgens Henry was dit ’n groot voorreg toe Charlotte ingestem het om hierdie pragtige lied saam met hom op te neem.

“Ek het ’n groot waardering vir Charlotte se stem en haar musikaliteit,” sê hy. “Ek was ongelooflik opgewonde toe sy ja sê om deel te wees van hierdie opname.”

Charlotte Benjamin beskik oor ’n indrukwekkende akademiese en uitvoerende agtergrond. Tussen 2009 en 2013 het sy ’n vyfjaar-musiekgraad aan die Konservatorium Antonio Vivaldi in Italië verwerf. Daarna het sy vir ses maande in Duitsland verdere stem- en sangopleiding ontvang, met spesialisering in Duitse repertoire. Sy tree tans op as vryskut solis vir verskeie musiekgeselskappe en het ook in 2025 ’n hoofrol vertolk as Naomi in die musiekblyspel Ruth the Musical.

Vir Henry bly dit ’n hoogtepunt wanneer hy met sy musiek lig kan bring vir iemand wat deur ’n donker tyd gaan. “As ek net een mens se dag kan ophelder, maak nie saak of ek voor 10, 100 of 1 000 mense sing nie, dan het ek my doel bereik.”

’n Musiekvideo vir “Goodness of God”  is reeds geskiet op ’n pragtige plaas net buite Lanseria en is vervaardig deur Deon van Wyk Productions. Die video fokus op die grootheid van God en Sy daaglikse versorging van klein en groot, soos weerspieël in die natuur. God se skepping.

Henry het van kleins af ’n groot liefde vir musiek ontwikkel en kom van ’n klein plattelandse dorpie in die Wes-Transvaal. Op skool was hy aktief betrokke by kore en revueproduksies en het ook klavierbegeleiding tydens saalbyeenkomste gedoen. Sy ouers het hom blootgestel aan klassieke musiek, en gereelde besoeke aan die Staatsteater het ’n blywende indruk gelaat.

Na matriek het hy regte studeer en sy LLB-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Hy is later as prokureur toegelaat en het ná sy meestersgraad in Arbeidsreg begin spesialiseer in Arbeidsreg en Menslike Hulpbronne. Ten spyte van ’n suksesvolle loopbaan in die regte, bly musiek sy grootste passie, wat hy steeds op ’n professionele vlak beoefen.

Hy het reeds saam met verskeie plaaslike kunstenaars gewerk en droom daarvan om eendag die verhoog te deel met internasionale kunstenaars soos Plácido Domingo, Jonas Kaufmann en Katherine Jenkins. Plaaslik het kunstenaars soos Koos du Plessis, Johannes Kerkorrel en Amanda Strydom hom diep beïnvloed.

“Ek wil musiek sing met diepte en betekenis — sielvolle musiek wat mense anders na die wêreld laat kyk,” sê hy. “Ek is op my gelukkigste wanneer ek my musiek met ander mense kan deel. As dit iets vir hulle beteken, is dit vir my ’n ongelooflike voorreg.”

Benewens sy sangloopbaan is Henry ook ’n pianis, orrelis en liedjieskrywer. Hy het onlangs vir ’n sjefkursus ingeskryf, aangesien hy ’n groot liefde vir kosmaak en onthaal het, met die droom om eendag sy eie gastehuis en restaurant oop te maak.

Hy is lief vir reis en om nuwe plekke te verken en poog om elke jaar minstens twee nuwe bestemmings in Suid-Afrikate besoek.

“Goodness of God”  is ’n lied van hoop, geloof en vertroosting, ’n uitnodiging om weer te vertrou, vas te hou en rus te vind in die goedheid van God.

Share this article

Recent News

Henry van Dyk in duet met Charlotte Benjamin
13Feb

Henry van Dyk in duet met Charlotte Benjamin

(Feb 2026) HENRY VAN DYK SE NUWE VRYSTELLING “GOODNESS OF…

Onike se Eers Vir My Hou kry binnekort ’n nuwe weergawe
30Jan

Onike se Eers Vir My Hou kry binnekort…

(Jan 2026) Ons is baie opgewonde dat Onike se geliefde…

Babette confronts pain with purpose with new single, Stronger Than A Phoenix
30Jan

Babette confronts pain with purpose with new single,…

(Jan 2026) South African artist Babette announces the release of…