Fresh out of the Zoo

(Jan 2026)

Ons is baie opgewonde dat Onike se geliefde enkelsnit, Eers Vir My Hou, wat reeds vroeër vrygestel is, binnekort in ’n nuwe weergawe beskikbaar sal wees. Hierdie heruitgawe beloof om die oorspronklike emosie en diepte van die enkelsnit te behou, terwyl dit ’n vars klank en nuwe energie na die nuwe jaar bring.

Hoewel Eers Vir My Hou nie ’n nuwe vrystelling in haar musiekloopbaan is nie, bly dit ’n betekenisvolle liedjie wat nou ’n tweede asem kry. Die enkelsnit, geskryf deur Hugo Ludik, Emil Paul, Julanie J en Onike, vertel die verhaal van ’n paartjie wat hulle verhouding eers vir hulself wil hou. Die idee agter die lied is eenvoudig: “Wat die wêreld nie sien nie, kan die wêreld nie seermaak nie.”

Die enkelsnit, wat ’n mengsel van Afrikaans, pop en country is, beeld die gevoel van veilige, privaat liefde uit. Dit vang die oomblikke vas waar twee mense net vir mekaar wil wees sonder om die buitewêreld se invloed toe te laat.

Die inspirasie kom uit die kunstenaar se eie ervaring. Ná vorige teleurstellings het sy haar nuwe verhouding eers privaat gehou om te sien of dit regtig gaan werk. Haar storie en lirieke dra iets persoonliks en egs by tot haar musiek. Sy glo dat baie luisteraars aanklank sal vind by hierdie gevoelens.

Die enkelsnit gaan nie net oor twyfel en beskerming nie, maar ook oor hoop. Daarom hou sy veral van die aanhaling: ‘Musiek maak gesond’. Dit herinner mense daaraan dat liefde stadig kan groei en dat die regte persoon die moeite werd is. Dit is vir enigeen wat al bang was vir ’n nuwe begin, vir almal wat verlief is, en vir dié wat steeds wag vir “die een”.

Meer oor die kunstenaar:

Buiten vir haar musiek, is sy ’n persoon met sterk familie- en persoonlike waardes. Sy is ’n introvert tussen vreemdelinge, maar ’n ekstrovert saam met vriende en familie. Haar liefde vir musiek het vroeg begin, en sy het al van kleins af gesing.

Sy is al 8 jaar in die musiekbedryf, en haar styl en lirieke word sterk beïnvloed deur kunstenaars soos Elvis Blue, Joe Niemand, Riana Nel, Riaan Benade en Elandre. Haar doel is om musiek te maak wat mense raak en wat stories vertel.

Sy kom oorspronklik van Marble Hall af, ’n klein dorpie, waar haar liefde vir musiek begin het. Buiten haar musiekloopbaan, gee sy skool by ’n Remedieërende Sentrum vir leerders wat op die spektrum is of leerders wat nie in hoofstroom-skole kan funksioneer of presteer nie. Haar passie vir onderwys en haar verbintenis tot haar studente is net so belangrik vir haar as haar musiek.

Sy is ook die wenner van die “Teen Singer” trofee, wat in Orlando, Florida, aangebied is. Sy het die geskiedenisboeke gehaal as die eerste Suid-Afrikaanse Tiener Sanger wat die kompetisie gewen het en was ’n platekontrak aangebied vanaf Interscope Records. Sy is steeds op ’n reis om haarself as kunstenaar te vestig, en met haar unieke stem en persoonlike liedjies is sy gereed om haar storie met die wêreld te deel.

Share this article

Recent News

Henry van Dyk in duet met Charlotte Benjamin
13Feb

Henry van Dyk in duet met Charlotte Benjamin

(Feb 2026) HENRY VAN DYK SE NUWE VRYSTELLING “GOODNESS OF…

Onike se Eers Vir My Hou kry binnekort ’n nuwe weergawe
30Jan

Onike se Eers Vir My Hou kry binnekort…

(Jan 2026) Ons is baie opgewonde dat Onike se geliefde…

Babette confronts pain with purpose with new single, Stronger Than A Phoenix
30Jan

Babette confronts pain with purpose with new single,…

(Jan 2026) South African artist Babette announces the release of…