(Nov 2025)
Die immergewilde sanger, liedjieskrywer én radio-aanbieder Martin Bester is terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat beslis harte en luidsprekers gaan aan die brand steek. Vuur en Vlamme, wat op 21 November vrygestel word, is ’n energieke pop-rock banger wat passie, emosie en lewenslus in elke noot vasvang.
Hierdie lied is ’n rou, eerlike uitdrukking van die intense oomblikke in die lewe – dié wat brand van liefde, hartseer of opwinding. “My musiek is biografies op ’n manier,” vertel Martin. “Dit weerspieël my eie ervarings en emosies. Vuur en Vlamme is geskryf in ’n tyd waar ek alles intens gevoel het – lewendig, onstuitbaar, vol vuur.”
Met sy kenmerkende stem en vars produksie is die snit ’n perfekte balans tussen pop en rock – ’n weergawe van Martin se veelsydigheid en sy vermoë om mense tegelykertyd te laat dink én dans. “Party dae is ek meer pop, ander dae meer rock. Dis maar hoe dit is – die lewe is nie net een kleur nie,” sê hy met ’n glimlag.
Die vrystelling van Vuur en Vlamme kom presies reg vir die somer – ’n lied wat gemaak is vir oop vensters, lang ritte en daardie oomblikke wanneer die lewe net goed voel. Dit beloof om een van die seisoen se groot treffers te wees en is ook vanaf 21 November op alle digitale platforms beskikbaar.
Meer oor Martin Bester
Met meer as drie dekades in die vermaaklikheidsbedryf is Martin Bester ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika.
Hy is ’n geliefde stem op die radiogolwe en is onlangs bekroon as “Best Local Radio Personality” by die 2025 Best of Pretoria Readers’ Choice Awards – ’n titel wat sy gewildheid en geloofwaardigheid as publieksgunsteling bevestig.
As kunstenaar tree Martin landswyd op by van Suid-Afrika se grootste feeste, soos die afgelope Glimlag Fees, waar hy keer op keer bewys waarom hy as een van die mees dinamiese kunstenaars in die land beskou word.
Sy unieke vermoë om mense te verbind – deur stories, emosie en energie – maak hom ’n ware ikoon in Afrikaanse musiek.
“Musiek bly vir my die hartklop van alles wat ek doen,” sê hy. “Of ek nou agter ’n mikrofoon in die ateljee sit of op ’n verhoog voor duisende mense staan – dis dieselfde gevoel. Dis waar ek tuis is.”