(Okt 2025)
Die opwindende nuwe stem in Afrikaans Country Pop, Lara, maak haar amptelike toetrede tot die musiekbedryf met haar debuut-enkelsnit getiteld, Ek Weet. Hierdie liedjie is ‘n eerlike en introspektiewe reis deur die emosionele landskap van selfontdekking, groei en bevryding van ou patrone. Met ‘n vars klank en ‘n diepgaande boodskap, beloof Lara se eerste vrystelling om harte te raak.
Ek Weet is ‘n enkelsnit oor die siklusse waarin ons onbewustelik vasval, selfs wanneer ons weet dit dien ons nie meer nie. Dit verken die gevoel van kinderlikheid wat steeds in ons harte leef, selfs wanneer ons ouer word, en die proses om daardie deel van onsself te aanvaar. Die liedjie is ‘n viering van innerlike bevryding en die moed om weer jou eie rigting te kies. Met ‘n genre wat Afrikaans Country Pop kombineer, bring Lara ‘n unieke klank na die plaaslike musiektoneel.
Die enkelsnit is geskryf deur die talentvolle Werner Beukes, en die lirieke is geïnspireer deur Lara se persoonlike ervaring van selfopoffering en die behoefte om haar eie drome te begin nastreef. “Ek was vasgevang in ‘n siklus waar ek altyd ander se behoeftes bo my eie geplaas het,” sê Lara. “Hierdie enkelsnit is my manier om daardie patroon te breek en myself weer ruimte te gee.”
Lara hoop dat die publiek die enkelsnit sal ontvang as ‘n herinnering om hulself te eer en tyd vir hul eie groei te maak. “Ek glo mense gaan aanklank vind by die boodskap, maar ook sommer lekker saamsing, veral met die koor,” sê sy. “Dis ‘n liedjie wat lig en swaar balanseer, ‘n dansbare ritme met ‘n betekenisvolle kern.”
“In vandag se besige lewe is die tyd wat jy alleen in jou kar spandeer soms die enigste tyd vir jouself. Ek hoop Ek Weet gee daardie oomblikke ‘n bietjie vreugde en selfrefleksie.” Sy beplan om nog musiek uit te bring en sien hierdie enkelsnit as die begin van ’n opwindende reis. Hoewel Lara nog aan die begin van haar loopbaan staan, het sy reeds die musiekvideo vir Ek Weet voltooi. “Ek het besluit om die video op ’n plaas te verfilm, iets natuurlik en eg,” verklap sy.
Meer oor die kunstenaar:
Lara se liefde vir musiek het al vroeg begin, van toneeloptredes en koorsang in laerskool tot ‘n metal groep in hoërskool. Ná ‘n lang stilte het sy die afgelope paar jaar weer begin sing en klavier speel, en nou neem sy haar musiek ernstig op. Sy is geïnspireer deur alternatiewe Afrikaanse groepe soos Die Gemeente, Spoegwolf en VOLK, en droom daarvan om eendag saam met ‘n metal band op te tree.
Alhoewel sy van verskillende genres hou, soos Metal en Rock tot Country en Pop, is haar benadering tot musiek altyd instinktief. “Die gedagte kom eerste, dan die lirieke, en dan voel ek waar dit pas,” sê sy. Buiten musiek is Lara mal oor sjokolade en katte, en glo dat stappies beter is as stilstand. Haar gunsteling aanhaling is Friedrich Nietzsche se woorde: “Without music, life would be a mistake.”
“Ek het groot geword op boupersele,” vertel sy met ’n glimlag. “My pa is ’n argitek, so ek was van kleins af tussen sement, bakstene en planne.” En as jy haar ooit op ’n bouperseel sien glimlag, weet dat die reuk van sement vir haar kinderherinneringe oproep.