(Okt 2025)
Eldon Flare, ’n jong en talentvolle Afrikaanse sanger, stel sy nuutste enkelsnit, Meer as Koffie vry. Dit handel nie net oor koffie nie, maar oor die dieper soeke na ware liefde. Hierdie Afrikaanse popliedjie, geskryf deur Ewald van Vuuren, vertel die verhaal van ’n man wat in ’n koffiewinkel op iemand verlief raak. Hy wil haar beter leer ken en besef gou dat hy meer verlang as net ’n koffiekuier, hy soek haar hart.
Die enkelsnit is geïnspireer deur ’n hartroerende somerromanse tussen twee mense wat mekaar onverwags raakloop. Aanvanklik is dit ’n toevallige ontmoeting, ’n oomblik van oogkontak en nuuskierigheid, maar die herinnering bly in sy gedagtes vassteek. “Dis ’n storie wat baie mense al beleef het: daardie oomblik wanneer jy weet jy wil meer hê as net ’n geselsie,” sê Eldon.
Meer as Koffie is vrolik en vol ritme, perfek vir dans en sing. Eldon glo dat mense dit goed gaan ontvang omdat dit ’n herkenbare tema aanspreek. “Almal het al gewens hulle kon saam met iemand koffie drink, en toe besef hulle wil eintlik meer hê. Dis daardie gevoel wat ek in die liedjie vasgevang het,” verduidelik hy.
Die musiekvideo is verfilm by Salt Coffee in Brits. Eldon vertolk die rol van die kelner in die laaste gedeelte van die musiekvideo, terwyl ’n vriend van hom en dié se meisie die hoofpaartjie vorm. Johan van der Westhuizen, beter bekend as GoWest, was verantwoordelik vir die produksie. “Ek wil hê mense moet die liedjie hoor en dadelik voel: dis ek, dis my storie,” sê Eldon. “Musiek moet jou laat dans én dink.” Sy vorige enkelsnitte het ook reeds groot sukses behaal.
Meer oor die kunstenaar:
Eldon Flare is gebore op 23 Augustus 2004 en het van kleins af ’n liefde vir musiek gehad. Hy het begin kitaar speel met sy ma se kitaar en was van graad 2 tot graad 12 in die koor. Hy het sanglesse geneem, aan kunswedstryde deelgeneem en verskeie trofees gewen. “Daar is ’n foto van my met net ’n doek aan en ’n kitaar in my hand, dis waar dit begin het,” lag hy.
Hy is al twee jaar aktief in die musiekbedryf en het die afgelope jaar ernstig begin opneem. Sy styl is kalmerend, en hy is geïnspireer deur kunstenaars soos Heuwels Fantasties, Spoegwolf, Dean Lewis en Myles Smith. Eldon glo in die krag van stories in musiek om emosies en ervarings in klank vas te vang. “Die liedjie wat jy dink is nie goed nie, kan dalk jou beste wees,” sê hy. “Skryf, sing, leef en moenie ophou nie.” Eldon studeer tans musiekproduksie in Sandton en werk aan nuwe musiek vir homself én ander kunstenaars.