Fresh out of the Zoo

(Sept 2025)

Die talentvolle Afrikaanse sangeres, Onike, stel haar enkelsnit, getiteld 24 Uur met trots bekend. Hierdie alternatiewe folk-liedjie is ‘n diep emosionele reis deur liefde, verlies en die onvoorspelbare ritme van verhoudings. Hoewel die liedjie oorspronklik geskryf is deur die Klopjag-band en John-Henry Opperman, bring Onike haar eie warmte en interpretasie na die enkelsnit, wat dit uniek maak. 

24 Uur vertel die storie van daardie intense oomblikke wanneer iemand nie jou gedagtes wil verlaat nie. Dit gaan oor verhoudings wat dalk nie uitgewerk het nie, of waar die tydsberekening eenvoudig nie reg was nie. Onike beskryf dit as daardie gevoel wanneer iemand letterlik 24 uur deel van jou gedagtes is, ‘n herinnering wat nie wil verdwyn nie. Die liedjie vang ook die broosheid van menslike verbintenisse en hoe vinnig iets mooi kan begin én eindig. 

Onike glo dat die publiek die liedjie met oop harte sal ontvang. Sy hoop dit bring herinneringe van hoërskooldae, universiteitsjare en die eenvoud van vroeër tye, toe liefdesbriewe nog geskryf is en sosiale media nie alles oorheers het nie. “Was daar ooit Facebook in 2002?” vra sy laggend. Die snit is bedoel om mense te laat voel, onthou en waardeer wat was, terwyl hulle ook dankbaar is vir wat nou is. 

Sy wil hê dat die liedjie oral gespeel word waar mense dit kan hoor en ervaar. Al is dit nie haar eie komposisie nie, glo sy dat haar interpretasie en die gevoel wat sy daarin sit, dit spesiaal maak. “Ek wil hê mense moet dit nie net hoor nie, maar beleef,” sê sy. 

Daar is ook ’n musiekvideo wat die warmte en emosie van die liedjie visueel uitbeeld. Die is in Pretoria by ’n opwindende nuwe familie-venue wat binnekort bekend gemaak sal word, verfilm. Die produksie is hanteer deur die Agter die Mic Plan-span, en die opname is gedoen deur Sean Manley. Onike wil hê dat mense haar liefde vir musiek in elke raam van die video moet kan sien. 

Met hierdie enkelsnit bou Onike voort op die sukses van haar eerste vrystelling, “Eers vir my hou”, wat vroeër die jaar vrygestel is. Sy is dankbaar vir die ondersteuning van haar aanhangers en die feit dat sy haar passie vir musiek kan uitleef terwyl sy steeds haar roeping as onderwyser volg. 

Meer oor die kunstenaar: 

Onike kom uit die klein dorpie, Marble Hall waar sy in ’n musikale huis grootgeword het. Van kleins af het sy in die kerk gesing en musiek was altyd deel van haar lewe. Sy is al 9 jaar professioneel betrokke in die musiek- en radiobedryf en het al verskeie platforms gebruik om haar stem te deel. Haar styl is warm, gelukkig en vol vrede, iets wat duidelik deurkom in haar optredes en opnames. 

Sy is geïnspireer deur kunstenaars soos Joe Niemand, Elandré, Riana Nel, Elvis Blue, Corlea, Demi-Lee Moore, Deon Meiring en Klopjag, en droom daarvan om eendag saam met hulle te werk. Buiten musiek, het sy ook ’n liefde vir kos en droom van ’n eie koffie-winkel of bakkery, ’n passie wat ontstaan het uit haar kinderdae toe haar ouers ’n Butterfield op die dorp gehad het. Haar musiek is diep gewortel in geloof, innerlike vrede en die stories van die lewe. Sy glo dat musiek gesond maak, en hoop om met elke liedjie ’n stukkie van daardie genesing aan ander te bring. 

Share this article

Recent News

Babette releases empowering new single, Hey Jack
28Nov

Babette releases empowering new single, Hey Jack

(Nov 2025) South African singer and songwriter, Babette returns with…

Martin Bester bring die hitte met nuwe enkelsnit – Vuur en Vlamme
21Nov

Martin Bester bring die hitte met nuwe enkelsnit…

(Nov 2025) Die immergewilde sanger, liedjieskrywer én radio-aanbieder Martin Bester…

Tasha inspireer met haar nuwe enkelsnit, Hou My Aan ’n Lyntjie
21Nov

Tasha inspireer met haar nuwe enkelsnit, Hou My…

(Nov 2025) Tasha, die talentvolle Afrikaanse sangeres, is terug met…