Fresh out of the Zoo

(Sept 2025)

Steve Hofmeyr, een van die mees geliefde en gevestigde name in Afrikaanse musiek, stel nou sy nuwe enkelsnit Meisiekind bekend – die eerste enkelsnit vanuit sy komende album Dwaas.

Dit is die eerste keer in nege jaar dat Steve weer ’n volwaardige album vrystel, en dit beteken dat sy indrukwekkende loopbaan, wat reeds veertig jaar en 38 albums strek, ’n kragtige nuwe hoofstuk kry.

Tydens ’n intieme luistersessie het Steve vertel dat hy verskriklik uitsien om sy nuwe musiek, agt splinternuwe liedjies, met sy aanhangers te deel.

Dié eksklusiewe luistersessie wat kort voor sy 61ste verjaarsdag by Monte de Dios in Pretoria plaasgevind het, het Steve en sy span die geleentheid gebied om die gehoor se reaksie eerstehands te toets. Onder die gaste was media, vriende en smaakmakers. Riaan Grobler van RSG was sermoniemeester en het met Steve oor die album gesels.

“Ons leef in ’n tyd waar mense musiek op hul selfone ontdek, maar met ’n luistersessie kry jy die kans om die liedjies se impak dadelik te beleef. Dis iets kosbaars wat ek nie wou verloor nie,” verduidelik Steve.

Meisiekind dien as hartklop van die projek en is uit die pen van die bekroonde liedjieskrywer Johan Vorster, wat ook as vervaardiger van die hele album optree.

“Hierdie lied ruk aan jou hart en dit is presies hoekom ek dit so graag wou opneem,” sê Steve.

Die musiekvideo vir Meisiekind verskyn op 12 September 2025 en beeld die storie van ’n liefde uit wat eenvoudig nie wou werk nie. Steve glo dat baie mense hulself daarin sal herken:

“Ek wil hê luisteraars moet kan sê dit het al met my gebeur, ek het nie geweet hoe om dit te verwoord nie – en nou sing ek dit namens hulle.”

Die album se titelsnit, Dwaas, is geïnspireer deur die idee dat ons almal soms maar bietjie dwaas is. Die titelsnit self wys op Jan Alleman en die dwaashede waarin ons almal soms verval.

Dwaas bestaan uit agt snitte, waarvan Meisiekind die eerste is. Die res van die album sal sporadies op stromingsplatforms bekendgestel word, sodat aanhangers oor die komende maande telkens iets nuuts uit hierdie besondere projek kan verwag.

Dit beloof om nie net ’n musikale terugkeer van ’n ikoon te wees nie, maar ook ’n album wat die emosies en stories van sy luisteraars eerlik en raak vasvang.

Die vrystellingsdatums is as volg:

  1. ⁠Meisiekind (Vrydag, 5 September)
  2. Meisiekind musiekvideo (Vrydag, 12 September)
  3. ⁠As jy my vind (Vrydag, 19 September)
  4. ⁠Alleen (Vrydag, 10 Oktober)
  5. Eendag (Vrydag, 17 Oktober)
  6. ⁠Wind uit my Seile (Vrydag, 27 Oktober)
  7. ⁠Dwaas (Vrydag, 7 November)
  8. ⁠Voor in die koor (Vrydag, 7 November)
  9. ⁠⁠Laaste Song (Vrydag, 7 November)

Meisiekind en al die ander enkelsnitte sal op jou gunsteling musiekstromingsdienste beskikbaar wees.

Share this article

Recent News

Babette releases empowering new single, Hey Jack
28Nov

Babette releases empowering new single, Hey Jack

(Nov 2025) South African singer and songwriter, Babette returns with…

Martin Bester bring die hitte met nuwe enkelsnit – Vuur en Vlamme
21Nov

Martin Bester bring die hitte met nuwe enkelsnit…

(Nov 2025) Die immergewilde sanger, liedjieskrywer én radio-aanbieder Martin Bester…

Tasha inspireer met haar nuwe enkelsnit, Hou My Aan ’n Lyntjie
21Nov

Tasha inspireer met haar nuwe enkelsnit, Hou My…

(Nov 2025) Tasha, die talentvolle Afrikaanse sangeres, is terug met…