(Aug 2025)
Die musiekgroep Hartklop se nuwe enkelsnit, Gekreukel, is pas vrygestelen vertel ’n emosionele storie oor liefde en verlange. In tipiese Hartklop-styl, bring dié snit ‘n speelse benadering tot ‘n tema waarmee almal kan identifiseer, twee mense wat mekaar mis, mekaar liefhet en tog nie altyd seker is hoe om bymekaar uit te kom nie. Die genre is ‘n kruising tussen moderne pop gemeng met ’n tikkie ou styl van die 80’s, wat dit vars en nostalgies laat voel.
Die enkelsnit is geskryf deur Cornel Viljoen en Zanneli Casey, wat as Hartklop die Afrikaanse musiektoneel betree het met ‘n unieke klank en gevoel. “Dit was een van daardie oomblikke waar alles net kliek en jy besef: hierdie enkelsnit moet in die wêreld wees,” sê Cornel.
Gekreukel is bedoel om ’n glimlag te bring, maar ook ’n oomblik om te dink en wonder oor drome wat jy nie kan ontleed nie. “Gekreukel herinner ons daaraan dat liefde nie altyd net reguit is nie, dis soms verward, maar altyd eg,” sê Zanneli.
Die musiekvideo, vervaardig deur Dee Collective Productions, skep ’n lewendige toneel in ’n skool waar jongmense aangemoedig word om hulle drome na te jaag. Hartklop glo in die krag van musiek om jongmense te inspireer.
Die duo se planne strek ver, van meer optredes by feeste, soos KKNK en Aardklop, tot die vrystelling van ‘n nuwe EP vroeg volgende jaar. Dit volg op hulle sukses met vorige enkelsnitte soos Probeer en Briewe, wat alreeds merkwaardige prestasies behaal het. Hartklop se klank het ontwikkel van diep, introspektiewe enkelsnitte na ’n styl wat meer mense kan geniet. Met Gekreukel wil hulle net nog verder die hart van hulle gehoor raak.
Meer oor die kunstenaars:
Cornel Viljoen is ’n 35-jarige musikant en liedjieskrywer van Boksburg met meer as 18 jaar professionele ondervinding. Sy liefde vir musiek het begin op 14 in ’n hoërskoolsaal, en sedertdien is die verhoog waar hy floreer. Hy het ’n liefde vir toneelspel wat min mense van hom weet, en hy kry inspirasie by sanggroepe soos Spoegwolf en Blink 182. Sy gunsteling liriek, geskryf deur Laurika Rauch, sê: “En eindelik was almal maar net kinders van die wind.”
Zanneli Casey se musikale reis het begin met ’n kitaarles by haar ma, en het uitgebrei tot ’n loopbaan wat haar al tot in Mango Groove se ou ateljee geneem het. Sy het ’n passie vir diere, en as sy nie musiek gemaak het nie, sou sy by ’n wilddiere-skuiling gewerk het. Sy hou van 80’s, Paramore en Ariana Grande, en is altyd besig met nuwe lirieke en klanke. Haar stem dra ’n rustige maar unieke teenwoordigheid, en haar gunsteling aanhaling som haar liefde vir musiek perfek op: “One good thing about music, when it hits you, you feel no pain.” – Bob Marley.