(Mei 2025)
Die Afrikaanse groep, Ouderdoos stel hulle nuwe enkesnit Onoordeelkundig bekend, ‘n kragtige refleksie oor die noodsaaklikheid om mekaar op te bou eerder as om af te breek. Teen die agtergrond van emosioneel-belaaide lirieke, bring Ouderdoos ’n boodskap van bewustheid, introspeksie en die krag van gemeenskaplike groei.
Ouderdoos is bekend vir hulle intense klanke, en die vermoë om taboes openlik aan te spreek. Wat in 2021 as ’n kreatiewe ontlading tussen vriende begin het, het ontwikkel in een van die mees unieke en gedugte nuwe stemme in Suid-Afrikaanse musiek. Hulle styl kombineer moderne “metal”-elemente met Afrikaanse lirieke, “post-hardcore” invloede, en ook ‘n ‘Alternatiewe’ klank.
Die enkelsnit is geskryf deur Illona, wat self deurlopend harde tye gehad het met veroordeling en sosiale druk, en haar lirieke is deurdrenk met die pyn van afwysing, maar ook die hoop van aanvaarding.
“Ons is almal besig om iets te dra wat ander nie noodwendig sien nie,” sê Illona. “Die enkelsnit vra dat ons mekaar eerder help dra as om mekaar verder af te trek.”
Onoordeelkundig is geskep rondom ’n atmosferiese inleiding wat oorgaan in energieke riffe, ondersteun deur Erik se dinamiese dromwerk en Nico se basspel wat die emosie van die lirieke onderstreep. Die produksie behou rouheid en egtheid, kenmerke wat die groep verkies bo oorverfynde klank.
Die vrystelling van Onoordeelkundig is die eerste van verskeie projekte wat Ouderdoos in 2025 beplan om hulle stempel af te druk. Die groep beplan ook ’n musiekvideo vir Onoordeelkundig, wat die enkelsnit se tema van konflik, oordeel en uiteindelike versoening visueel sal uitbeeld.
Die musiekvideo is ’n klein dokumentêr oor die ontstaan van Ouderdoos en hulle visie vir die toekoms, asook ‘n eklusiewe veldtog teen stigmatisering, waar die groep sal saamwerk met organisasies wat fokus op geestesgesondheid en gemeenskapsbewustheid.
“Ons wil nie net musiek maak nie, ons wil betekenis maak,” sê Nico. “Ouderdoos is ’n stem vir diegene wat stilgemaak word.”
By vroeë vertonings van die enkelsnit, het aanhangers emosioneel gereageer en sosiale media oorstroom met hulle stories van verwerping, aanvaarding en selfgroei. Baie het gedeel hoe Ouderdoos se eerlike en rou klank hulle bemagtig het om hulle eie pyn te verwerk.
“Dis meer as net musiek, dis ’n beweging,” sê ’n aanhanger na ’n optrede in Johannesburg.