(April 2025)
Bemagtiging van voornemende kunstenaars om ingeligte loopbaankeuses te maak
Sterfabriek skud die Afrikaanse musiekbedryf wakker met ’n eksklusiewe kursus wat aspirant-kunstenaars bemagtig om hul loopbane slim en suksesvol te bou. Hierdie dinamiese inisiatief bied ongeëwenaarde insigte, praktiese kennis en strategiese vaardighede sodat deelnemers nie net hul drome kan nastreef nie, maar dit werklik kan verwesenlik.
Dié aanlynkursus dek elke aspek van die Afrikaanse musiekbedryf, met meer as 50 videolesse en meer as 40 onderhoude met bedryfsleiers en topkunstenaars. Die platform se buigsame aanlynformaat stel deelnemers in staat om op hul eie tyd en pas te leer, wat dit ideaal maak vir individue met verskillende skedules.
Sterfabriek is gestig deur onder andere Hugo Ludik, James Boland en Nick Jordaan.
Hugo is bekroonde liedjieskrywer en musiekvervaardiger wat in 2009 bekendheid verwerf het toe sy liedjie, Papsopwinterwaternat, Huisgenoot se Liedjieskryfkompetisie gewen het en deur Kurt Darren opgeneem is. Hy is ook een van die hooflede van die gewilde sanggroep ADAM en het al talle top-treffers vervaardig.
“Ek weet uit eerstehandse ondervinding hoe uitdagend en soms verwarrend die musiekbedryf kan wees vir jong kunstenaars. Met Sterfabriek wil ons ‘n padkaart gee – ‘n gids wat jou help om nie net suksesvol te wees nie, maar ook slim besluite te neem wat jou loopbaan volhoubaar maak,” het Hugo het gesê.
James is ‘n SAMA-bekroonde liedjieskrywer en hoofsanger van die bekroonde Afrikaanse groep, Posduif. Volgens hom is Sterfabriek ‘n broodnodige hulpmiddel vir opkomende kunstenaars.
“Elke kunstenaar droom van ‘n suksesvolle musiekloopbaan, maar sonder die regte kennis en leiding is dit baie moeilik om daardie droom te bereik. Hierdie kursus is ‘n absolute game-changer – dit gee jou nie net die teorie nie, maar praktiese raad wat jou regtig in die bedryf kan help vestig,” het hy benadruk.
Die veelsydige veelsydige musikant en vervaardiger, Nick, is veral bekend vir sy werk as hoofsanger van Rubber Duc en sy betrokkenheid in verskeie suksesvolle musiekprojekte.
Hy beklemtoon die belangrikheid van aanpasbaarheid en selfbemarking in die moderne musiekbedryf.
“Die musiekwêreld verander vinniger as ooit – en as kunstenaar moet jy weet hoe om dit tot jou voordeel te gebruik,” het hy gesê.
“Met Sterfabriek kry jy ‘n binnekykie na hoe die bedryf regtig werk, en jy leer hoe om jouself as ‘n volwaardige kunstenaar te bou, eerder as om net op geluk te vertrou,” verduidelik hy.
Om die boodskap van Sterfabriek wyd te versprei, is The Marketing Zoo as die amptelike PR-vennoot betrek. The Marketing Zoo het diep spore in die vermaaklikheidsbedryf getrap en is verantwoordelik vir van die grootste vermaak- en bemarkingsveldtogte in Suid-Afrika en internasionaal.
Volgens Wian Smith-Venter, stigter en globale uitvoerende hoof van The Marketing Zoo is Sterfabriek presies wat die Afrikaanse musiekbedryf nodig het.
“Sterfabriek is ‘n platform wat nie net talent ontwikkel nie, maar kunstenaars toerus met die regte kennis om volhoubare en suksesvolle loopbane te bou. Ons is trots om deel te wees van hierdie revolusionêre projek en sien uit daarna om dit tot by die regte gehore te bring.”
In een va die afdelings van dié kursus gesels Sterfabriek ook onder andere met Henco Harmse, Spesialisbestuurder van Afrikaanse Musiek by Spotify Suid-Afrika. Hy deel sy insigte oor hoe kunstenaars die digitale era tot hul voordeel kan gebruik en hul musiekstrategie op platforms soos Spotify kan optimaliseer.
“Digitale verspreiding en stroomdienste het die musiekbedryf onherroeplik verander. Dit is vir kunstenaars van kardinale belang om te verstaan hoe hulle hul musiek kan bemark en groei op platforms soos Spotify,” het hy gesê.
Sterfabriek is ontwerp om praktiese insigte en vaardighede te bied wat onmiddellik toegepas kan word. Deur middel van regte-wêreld strategieë en bedryfsgeheime leer deelnemers hoe om hul loopbane in die Afrikaanse musiekbedryf te versnel. Deelnemers kry die geleentheid om te leer van die grootste name in die bedryf, insluitend Eloff, Ricus Nel, Riaan Benade, Early B, Spoegwolf, platemaatskappy-CEO’s en vele meer. Hierdie insigte bied ‘n unieke perspektief op wat dit verg om in die Afrikaanse musiekbedryf te slaag.
Deur die gereedskap, leiding, inspirasie en kontakte wat deur Sterfabriek verskaf word, kan deelnemers hul innerlike potensiaal ontsluit en met selfvertroue hul plek in die Afrikaanse musiekbedryf inneem.
Só poog Sterfabriek om die toekoms van Afrikaanse musiek te bou, een ster op ‘n slag.
Besoek Sterfabriek hier: https://sterfabriek.co.za
