(28 Junie 2024)
Die musikant Jakkie Louw is al 26 jaar in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf besig, maar sy jongste uitreiking genaamd Donkie is iets wat nog nooit tevore in Afrikaans gedoen is nie.
Donkie is ʼn prettige snit uit Jakkie se eie pen, en voeg selfs nog meer verskeidenheid tot die skatkis van Afrikaanse trefferliedjies wat die talentvolle musikant en liedjieskrywer oor byna drie dekades geskryf en opgeneem het.
Dit is veral Donkie se energie wat vir Jakkie uitstaan. Hy luister self na die tipe musiek en is lief vir die energie van dié musiek.
Volgens Jakkie gaan die publiek die liedjie mildelik verwelkom en sê die liedjie trek reeds baie aandag wanneer hy dit by konserte uitvoer.
“Ek dink ons mense soek ʼn rede vir ʼn makietie en ʼn liedjie soos Donkie is soos petrol op ʼn donkie se stert… heehaw!” sê die sanger.
“Ek wil hê dit moet luisteraars se harte vinniger laat klop en mense laat glimlag.”
Jakkie beplan om sy dagboek te vul met konserte en optredes by al wat ʼn musiekfees in en om Suid-Afrika is, en gehore te vermaak met die loslitlekkersnit Donkie.
Hy ag sy verskynings by groot feeste juis as die hoogtepunt van sy loopbaan. “Om my liedjies te sing en 40 000 mense sing almal saam… dit laat ʼn mens deel voel van iets groot. Ek kan die geluk en lag in mense se oë sien wanneer ek sing.”
Die musiekvideo het ook ʼn feestema en is opgeneem in Margate by die Oppikus Musiekfees voor 3 000 mense. Beeldmateriaal van Jakkie en sy orkes op toer is ook deel van die musiekvideo.
“Ek wil hê mense moet sien hoe baie werk in hierdie loopbaan gaan en hoe heerlik die beloning is wanneer almal saam sing en ʼn lekker tyd het.”
Daar word ook ʼn liriekevideo vir Donkie beplan.
Jakkie het onlangs ʼn musiekvideo vir die liedjie Doen Jou Bes uitgereik. Die liedjie was oorspronklik in Engels geskryf, maar hy het dit vertaal vir sy vriendin wat kanker gekry het.
Meer oor die kunstenaar
Jakkie Louw het op 15-jarige ouderdom homself geleer kitaar speel nadat sy ouer broer, Frikkie Louw, op die ouderdom van 18 oorlede is.
Hy beskryf die kitaar en lirieke as sy persoonlike sielkundige. Hy het van kleins af ‘n liefde vir goeie musiek, veral dié van Pearl Jam, Nirvana, Metallica, Counting Crows, Live, REM, Collective Soul, Sting en Cat Stevens.
Jakkie vier vanjaar sy 26ste jaar as professionele kunstenaar. Hy kyk op na Koos Kombuis, Bruce Springsteen en Dave Matthews.
Volgens Jakkie is dit die menswees agter lirieke, en die eerlikheid en passie in liedjies, wat hom inspireer.
Johann Sebastian Bach, Tracy Chapman, Damian Rice, Chris Stapelton en Kurt Cobain tel ook onder sy musikale inspirasies.
Jakkie beskryf sy stem en musiekstyl as uniek en energiek. Hy het jare gelede gesukkel met angstigheid voor sy optredes, maar sy geloof het hom hiermee gehelp.
“Talent is nie so belangrik soos harde werk nie,” sê Jakkie oor wat hy al geleer het in die musiekbedryf.
“Dit is bitter moeilik om iemand te wen wat nooit opgee nie. Mense daar buite wil jou ondersteun. Gee hulle ʼn rede en gee hulle dan die kans.”
Jakkie is veral bekend vir treffers soos Drie Pikkewyne, Een Miljoen Woorde, Plaashond en Ek en Jy en ʼn Bottel Tas.