(31 Mei 2024)
Drie van Suid-Afrika se voorste vrouemusikante het kragte saamgesnoer om die geliefde sanggroep, BlackByrd weer te laat herleef.
Die groep bestaan nou uit oorspronklike lid Tarryn Lamb, en nuwe lede Tasché Burger van
The Voice-faam, en Tasha.
Die splinternuwe groep se eerste enkelsnit heet Didn’t I. Die Engelse snit was ʼn gesamentlike, en uiters suksesvolle, poging uit die drietal se eie penne.
“Die liedjie is in my tuin geskryf!” verklap Tarryn opgewonde oor dié goed-voel country-pop liedjie wat sy ook as “ʼn baken van hoop” beskryf.
“Die inspirasie van die lied is om uit te reik na die persoon wat miskien ʼn bietjie verlore voel tydens die genesingsproses na die verbrokkeling van ʼn verhouding. Daarom is die liedjie ʼn baken van hoop met die boodskap dat al voel dinge nie nou goed nie, sal dit beter raak en jy sal sterker anderkant uit kom,” verduidelik Tarryn.
“Ons almal ervaar ʼn gebroke hart een of ander tyd in ons lewe, en die liedjie gaan oor die hele reis. ʼn Mens is hartseer aan die begin, maar soos die tyd aanstap wens mens later vrede en geluk vir die ander persoon,” beaam Tasché.
Volgens Tarryn, wat bekend is vir vorige BlackByrd-treffers soos “From the bottom of my heart” en “Better in the morning”, beteken Didn’t I ʼn nuwe begin vir die trio as vroue, wat nou deel vorm van die nuwe reis van BlackByrd.
Vir Tasché is die liedjie spesiaal, aangesien dit die eerste liedjie is wat hulle saam geskryf het. “Dis die begin van ons reis saam as groep.”
Volgens Tasha het al drie van hulle ervaringe gevat uit hulle eie lewens. “Die storielyn van die liedjie is gebaseer op iets wat al in elkeen van ons se lewens gebeur het.”
BlackByrd is oorspronklik in 2012 gevorm en het bestaan uit Tarryn Lamb, Tamsyn Maker en Axene Chaberski.
Die musiekvideo vir Didn’t I beeld ʼn eenvoudige storielyn uit van twee vriendinne wat die ander een probeer opbeur.
“Ek dink wat die video anders maak is daar is drie sterk sangers en ek dink nie mense gaan verwag om die drie gesigte saam te sien nie,” sê Tasha.
Tarryn sê sy sien uit na die nuwe pad wat sy saam met Tasché en Tasha as BlackByrd gaan stap.
“Elke keer wanneer ek die geleentheid kry om iets nuut te doen, ʼn nuwe reis te kan aanpak, voel dit soos ʼn magical tyd. Dit is presies hoe ʼn hoogtepunt voel.”
Die musiekvideo is in Pretoria geskiet deur Eric T Graham en Tehan Buys.
Meer oor die kunstenaars:
Tarryn Lamb
Tarryn Lamb is al van die ouderdom van 17 voltyds in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf besig. Sy sê die Here, die lewe, haar familie, die natuur, mense, ervarings, liefde, seerkry en hoop inspireer haar om te skryf en sing.
Alle genres van musiek inspireer haar en sy is mal oor kunstenaars wat die kwesbaarste is deur die manier hoe hulle skryf en sing. Sy sonder Dean Lewis, John Mayer, Pink en Aerosmith uit as gunstelinge.
Sy beskryf haar stem en styl as pop, met ʼn spatsel country.
As onafhanklike kunstenaar is Tarryn nie mal oor die administrasie wat saam met die sangbedryf gepaard gaan nie.
Wanneer sy nie in die ateljee besig is om nuwe musiek op te neem en te skryf nie, is sy besig om regoor die land op te tree en is ook besig om nuwe musiek op te neem.
Tasché Burger
Tasché het op 4-jarige ouderdom begin om sanglesse te neem en het baie lief geraak vir sing. Sy het egter tot ʼn paar jaar gelede maar net gedroom daarvan om te sing vir ʼn lewe.
Sy is vanaf 2019 amptelik deel van die musiekbedryf toe sy as 19-jarige die M-Net sangkompetisie, The Voice, onder leiding van die rockster en mentor Francois van Coke, gewen het.
Sy sal graag nog saam met Corlea Botha wil sing, aangesien sy mal is oor haar stem. Sy wil ook graag weer saam met Juan Boucher, saam wie sy die trefferlied Suid uitgereik het, werk.
Dit is vir haar belangrik om altyd sielvol te wees hoop dit is ʼn kwaliteit wat altyd uitstaan in haar musiek.
Sy is opgewonde oor die res van die jaar wat voorlê en veral haar nuwe reis saam met BlackByrd en ander samewerkingsnitte.
Tasha
Tasha, oftewel Natasha Zaaiman, is sedert ʼn baie jong ouderdom omring deur musiek en het vanaf sy 5 jaar oud was self op die verhoog gestaan.
Sy het in 2018 amptelik deelgeraak van die musiekbedryf toe sy aan die sangkompetisie, Die Kontrak, deelgeneem het en die top-ses gehaal het.
Sy wil graag saam met Almero, Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke en Spoegwolf werk. Tasha se stem word dikwels as nostalgies beskryf.