Fresh out of the Zoo

(29 September 2023)

Die jong musikant Jemma Catherine skryf en sing gereeld oor verhoudings en met haar splinternuwe Afrikaanse punk-pop-uitreiking, Versmoor, is dit geen uitsondering nie. 

Versmoor handel oor daai stadium in jou lewe wat jy nog nie lekker weet na wat of wie jy opsoek is nie en jy verskillende verhoudings probeer maar dit werk dalk nie lekker uit nie. 

“Die lirieke wat ek gebruik om die gevoel uit te beeld is: “Liefde bly die ding wat ek net nooit sal leer nie,” want op daai stadium in jou lewe voel dit dalk vir jou asof dit vir altyd so gaan wees totdat dit die dag uiteindelik uitwerk,” verduidelik die kunstenaar die tema van die liedjie. 

Ruan Graaff van Dee Graaff Productions het die liedjie vervaardig. 

Die jong sangeres sê Versmoor is iets anders as haar vorige vrystellings.  

Versmoor is vol energie en ʼn lekker saamsing-liedjie, maar handel steeds oor iets wat elke mens moet deurgaan.” 

Die sangeres glo die tema is universeel en is dit iets waardeur almal moet gaan in terme van verhoudings. Die liedjie praat ook baie met die jeug, want hulle gaan moontlik nou daardeur.  

Licht Studios het die musiekvideo vir Versmoor gemaak. Die orkes verskyn saam met Jemma in die video en hulle maak gebruik van verskillende lense om ʼn vars element na die video te bring. 

Deon Dee het die video geregisseer en vervaardig. Wilhelm van der Westhuizen, Jarrod Jay Cooper en Kaila Botha het ook aan die video gewerk. 

Jemma werk gereeld saam met die musiekvervaardiger Deon Dee, wat deel vorm van Dee Graaf Productions saam met Ruan Graaff. 

Haar musiek maak sedert verlede jaar groot opslae in die Afrikaanse musiekbedryf, en dit is veral die ballade “SOS”, ‘n duet met die sanger en liedjieskrywer Georic Lomas, wat luisteraars vroeër vanjaar laat regop sit het. 

Jemma het ook getref met oorwurm-snitte soos “Klaar Gesmeek”, “Alles Gee”, en “Almal het Iemand”, wat verskeie Afrikaanse radiospeellyste en treffersparades gehaal het. 

Die jong kunstenaar se video’s is ook uiters gewild op onder meer YouTube, waar “Klaar Gesmeek” en “Almal het Iemand” spog met onderskeidelik 75 000 en 55 000 trefslae. 

Meer oor die kunstenaar: 

Jemma Catherine skryf al sedert die ouderdom van 12 haar eie liedjies en neem reeds van die ouderdom van ses aan kunswedstryde en Eisteddfods deel. 

Die opkomende sangeres en liedjieskrywer het grootgeword met haar pa, Leon, se uitgebreide versameling albums van verskeie genres van musiek. Sy het van kleins af vertonings en geleenthede bygewoon aangesien haar pa ‘n geleentheidsmaatskappy, EPH Productions, besit. 

“’n Groot deel van my liefde vir musiek kom van my ouers af. Hulle het my bly motiveer om hierdie droom van my te volg,” sê Jemma Catherine. 

Haar grootste mentor in die musiekbedryf is die kunstenaar Janie Bay, wat vir haar ‘n voorbeeld is van hoe om as ‘n vrou sterk te staan in die musiekbedryf. 

Volgens Jemma Catherine streef sy altyd daarna om eerlik te wees met haar musiek en probeer sy om altyd weerloos te wees in die oomblik met die boodskap wat sy wil oordra. 

Die sangeres is ook tans besig om haar honneursgraad in verbruikerswetenskappe te voltooi, maar spits haarself ten volle toe op haar musiekloopbaan.   

“Ek wil sterk staan vir wat ek as kunstenaar en skrywer met my musiek wil bereik en wat ek na hierdie bedryf wil bring.” 

Share this article

Recent News

Alba Vorster ontplof soos ‘n TYDBOM met nuwe Afrikaanse snit   
01Dec

Alba Vorster ontplof soos ‘n TYDBOM met nuwe…

(1 Desember 2023) Die jong Suid-Afrikaanse sangeres Alba Vorster is…

Boodskap op die Radio – Die Bokkies  
01Dec

Boodskap op die Radio – Die Bokkies  

(1 Desember 2023) (Louis van den Berg, Nadine Blom, Loki…

Dis partytjietyd met Martin Bester se Boerepop”!  
01Dec

Dis partytjietyd met Martin Bester se Boerepop”!  

(1 Desember 2023) Een ding waarvan elke Afrikaanse musiekliefhebber seker…