Fresh out of the Zoo

(Nov 2025)

Die jong Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Janco Dreyer, is terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat beloof om harte vinnig te laat klop en voete op die dansvloer te hou. Sy jongste vrystelling, getiteld Tornado, is ’n energieke Afrikaanse popliedjie wat die gevoel van verlief wees en die krag van musiek op unieke wyse vasvang. 

Tornado is geïnspireer deur daardie een oomblik op die dansvloer, wanneer alles rondom jou verdwyn en net jy, sy en die musiek oorbly. “Dis asof julle in julle eie wêreld is en alles draai om haar, soos ’n tornado,” verduidelik Janco. Die liedjie is geskryf deur Hugo Ludik, Nicolas Jordaan en Janco self, ’n span wat duidelik weet hoe om emosie en ritme saam te weef. 

Die liedjie is nie net ’n dansbaan-treffer nie, maar ook ’n weerspieëling van Janco se eie lewensenergie. “Tornado beteken vir my daai gevoel van vrywees wanneer jy alles los en in die oomblik leef. Ek het dit gekies omdat dit regtig die energie van wie ek is, vasvang,” sê hy. Die liedjie is propvol passie, chaos en daardie opwindende gevoel van verlief wees, alles in een pakkie. 

Volgens Janco is Tornado bedoel om mense te laat beweeg én voel. “Ek dink die publiek gaan Tornado sommer dadelik aanvoel. Dis ’n liedjie wat jou nie sal laat stilsit nie. Jy kan nie anders as om te dans nie,” sê hy met ’n glimlag. Hy hoop dat luisteraars die energie sal ervaar wat hy probeer oordra, en dalk selfs hul eie “tornado” op die dansvloer beleef. 

Die musiekvideo vir Tornado is reeds geskiet en bring die liedjie se tema visueel tot lewe. Met vinnige draaie, intense energie en passievolle tonele, is dit ’n visuele fees wat die gevoel van die liedjie perfek vasvang. Die produksie is hanteer deur ’n talentvolle span wat Janco se visie help realiseer het, om daardie een oomblik van totale oorweldigende liefde en musiek vas te vang. 

Met Tornado wys Janco Dreyer dat hy nie net ’n sanger is nie, maar ’n storieverteller wat sy gehoor wil laat voel. “Ek wil hê my musiek moet mense laat voel. Ek wil hê hulle moet kan dans, lag en opgewonde wees om verlief te wees,” sê hy. Sy toekomsplanne is om aan te hou musiek maak wat mense raak en om soveel moontlik verhoogte met sy stories te vul. 

Meer oor die kunstenaar: 

Janco Dreyer is nie net ’n talentvolle kunstenaar nie, maar ook ’n mens met ’n passie vir mense en musiek. Hy het onlangs opgetree by die gewilde Glimlag Fees, waar sy optrede met groot entoesiasme ontvang is. Hierdie verhoogervaring het hom net meer gemotiveer om sy musiek met ’n wyer gehoor te deel. “Om te voel hoe jou musiek mense raak is iets wat jy nooit vergeet nie,” sê hy oor sy loopbaanhoogtepunte. 

Wanneer hy nie op die verhoog is nie, geniet Janco dit om tyd saam met familie en vriende deur te bring, en inspirasie vir nuwe liedjies in die alledaagse oomblikke van die lewe te vind. Met sy opregte benadering en aansteeklike energie, is dit duidelik dat Janco Dreyer ’n kunstenaar is wat nog lank in die Afrikaanse musiekbedryf gaan saamsing.  

Share this article

Recent News

Babette releases empowering new single, Hey Jack
28Nov

Babette releases empowering new single, Hey Jack

(Nov 2025) South African singer and songwriter, Babette returns with…

Martin Bester bring die hitte met nuwe enkelsnit – Vuur en Vlamme
21Nov

Martin Bester bring die hitte met nuwe enkelsnit…

(Nov 2025) Die immergewilde sanger, liedjieskrywer én radio-aanbieder Martin Bester…

Tasha inspireer met haar nuwe enkelsnit, Hou My Aan ’n Lyntjie
21Nov

Tasha inspireer met haar nuwe enkelsnit, Hou My…

(Nov 2025) Tasha, die talentvolle Afrikaanse sangeres, is terug met…