(Okt 2025)
Die talentvolle jong sangeres Alba stel haar nuutste enkelsnit, Lente, vry. ’n Enkelsnit wat die sagte nostalgie van jeug en die varsheid van nuwe beginne vasvang. Met haar kenmerkende eerlikheid en melodiese styl, nooi sy luisteraars om hul eie herinneringe en emosies in haar musiek te ontdek.
“Ek hou van liedjies wat nostalgies voel,” sê Alba. “Ek wou graag ook so ’n tipe liedjie met mense deel, iets wat resoneer met die seisoene van die lewe en die herinneringe wat daarmee saamgaan.” Die enkelsnit is ’n viering van lente as ’n tyd van groei, verandering en die gevoel van jongwees, temas wat diep in Alba se eie lewe gewortel is.
Die publiek se reaksie op Lente beloof om net so hartlik te wees soos die enkelsnit self. Alba glo dat die gevoel van die liedjie sag, introspektief en universeel, aanklank sal vind by baie. “Die genre en die nostalgiese aard daarvan maak dit iets wat mense sal wil luister en herluister.” Vir Alba is musiek meer as net ’n boodskap, dit is ’n uitnodiging. “Ek wil hê mense moet hulle eie stories uit my liedjies maak. Ja, Lente het ’n betekenis vir my, maar ek glo elke luisteraar sal iets uniek daarin vind.”
Saam met die enkelsnit bring Alba ook ’n visuele element na vore wat die musiek ondersteun, en vang die gevoel van Lente vas. “Dis nie ’n musiekvideo nie, maar dit wys my as ’n tipiese tiener wat myself geniet in die seisoen van my lewe. Ons het gegaan vir ’n algemene ‘Lente look and feel’.”
Die visuele element is geskiet in Bellville en Durbanville, Alba se eerste video in die Kaap. “Die omgewing gee ’n unieke gevoel aan die video. Dit is anders as enigiets wat ek al gedoen het.” Die produksie is behartig deur Margot Rothman en Rothman Digital, wat Alba se visie met styl en sensitiwiteit tot lewe gebring het.
Meer oor die kunstenaar:
Alba het op 4 Oktober 2025 by die gewilde Glimlag Fees opgetree, waar sy haar nuutste enkelsnit, Lente vir die eerste keer aan ’n lewendige feesgehoor gesing het. Die optrede was ’n spesiale oomblik in haar loopbaan en het die begin van Lente se storie op die verhoog gemerk. Ná vorige enkelsnitte soos Omgekeer en Ek Mis Jou, het hierdie vertoning ’n betekenisvolle mylpaal geword in haar groei as kunstenaar.
Sy en haar familie het onlangs Kaap toe getrek, ’n stap wat haar kreatiewe proses ’n nuwe energie gegee het. “Die Kaap het my geïnspireer op maniere wat ek nie verwag het nie. Die landskap, die mense, die atmosfeer, dit het alles ’n invloed gehad op hoe ek Lente geskryf en opgeneem het.” Alba beplan om ná matriek voltyds op haar musiek te fokus, meer tyd in die ateljee deur te bring, saam met ander kunstenaars te skryf, en uiteindelik haar debuutalbum te voltooi.