Fresh out of the Zoo

(3 November 2023)

Nadat sy gekskeer in komiese sosiale media videos oor ’n     

gewilde Afrikaanse realiteitsreeks, lê aanhangers van die lag en só is Mel die Storieverteller op almal se lippe en foonskerms. Nie nét vir komiese verligting nie, maar ook as ’n bron van inspirasie vir Suid-Afrikaanse vrouens.  

“Ek act én skryf stories vandat ek al sewe jaar oud is, daardie tipiese oornag sukses wat tien jaar geneem het,” vertel sy.  

Mel die Storieverteller skryf inderdaad nou aan ‘n suksesverhaal,haar eie. Met miljoene kyke op haar video’s, duisende volgelinge op sosiale media en honderde lede in die gehoor word haar drome ’n realiteit en pluk sy die vrugte van haar harde werk. Nie net laat sy mense landwyd op sosiale media giggel nie, maar kaartjies na haar eie eenvrou komiese vertoning “Almal is Mal!”, waarmee sy die land vol toer, verkoop soos soetkoek.  

“Ons love jou, jy’s ons tipe mens. Jy’s lekker, lekker!” skryf ‘n vroulike aanhanger op haar sosiale media én 85% van haar amper 300,000 volgelinge is vrouens.    

“Ek was nog altyd eintlik maar half-en-half in die bedryf. Aan die einde van 2021 verfilm ek my eerste video’s op YouTube waar ek bietjie spot met Afrikaanse liedjies se lirieke. Ek skuif toe oor na TikTok. Ek bereik vinnig 100 000 volgelinge op die platform en begin toe meer foto’s en stories deel op my Instagram, Facebook het vinnig daarna gevolg.  Dis toe al drie sosiale media platforms vlam vat dat ek besef – dalk het ek iets hier beet,” vertel sy.  

   
Volgens haar was die deurbraak-oomblik toe sy komiese satiriese video’s oor die  Real Housewives van Pretoria op haar sosiale media plaas in  2022. 

“Toe sien ‘belangrike’ mense my,” vertel sy laggend. Maar dis ook haar uitgesprokenheid oor liggaamspositiwiteit en vrouwees wat die harte van baie S.A. vroue oorwin.  

 “Komiese tydsberekening is ‘n sterk punt van jongs af en ek speel tot my sterk punte,” deel Mel, die middelkind van drie susters.  

Mel maak die skuif van sosiale media na die verhoog in Mei 2023. ““ Erêns moes ek ‘n skuif maak, ek is ambisieus, en het nie gedink dat sosiale media ‘n langtermyn vervullende rol sou wees nie. Ek wou ‘n eenvrou-vertoning doen,maar ek wou dit doen as Mel, nie as ‘n karakter nie. Ek is ‘n vrou met ‘n opinie en ‘n unieke humoristiese uitkyk oor die lewe, dus het stand up komedie baie organies gebeur,” vertel sy.  

En só gebeur dit, Mel is baie braaf en boek die Atterbury teater in Pretoria op die 2de Mei 2023, die debuutvertoning verkoop vinnig uit en nou bly sy nie voor nie. Van Polokwane tot Oos-Londen, van Tzaneen tot Paternoster – almal soek haar op die verhoog om saam te lag en vir ‘n wyle te vergeet van die lewe se uitdagings.    

“Ek praat oor menswees – die regte menswees sonder die aangeplakte alles – skynheilige mense, verskille tussen mans/vrouens en ons eie mal manier van dinge doen,” vertel sy. 

Dis miskien ook haar eerlikheid (sy erken sy dink sy kan nie jok nie) wat mense na aan die hart lê. En dan die diepte waarmee sy kykers en gehore soms uit die bloute slaan. Soos waneer sy gesels oor seksisme, feminisme en ligaaamspositiwiteit.  

“Ek is ‘n trotse LGBTQIA+ ally. Ek is ook myself in my videos – soms lyk ek soos ‘n opgetofte model, maar soms het ek nou net wakker geword en lyk soos ‘n deurmekaar wolkombers – dit is alles oor selfvertroue en om ander mense te inspireer om ook vol selfvertroue te wees,” het sy gesê.  

Mel noem haarself “‘n over-achier”. Op hoërskool is onderhoofmeisie van kultuur te MHS, lid van die redenaarspan en deel van die eerste netbalspan en atletiekspan., Met vier onderskeidings verower sy twee beurse en gaan studeer drama te Stellenbosch Universiteit. Sy speel in haar eerste kort film in 2008 teenoor Albert Maritz en spring daarna op vliegtuig om Londen vir twee jaar te gaan verken. Dis hierdie einste Londense reise wat haar eerste  komiese vertoning “Almal is Mal!” inspireer.  

Nadat Mel terugkeer van Londen bekwaam sy haarself as kuns, drama en tale onderwyseres. Sy wen ‘n kunskompetisie in Middelburg en van haar skilderye is te sien in die Middelburg Mall en in die Middelburg Observer se museum.  

Mel is nie net ‘n vermaaklikheidspersona nie, sy is ook ‘n entrepreneur. “In 2013 open ek my eie drama skool en vermaaklikheidsbesigheid – Karbinna Entertainment. Dit bestaan uit ‘n dramaskool, kostuum uitverhurings en vermaak by kinderpartytjies en in winkelsentrums. Ons hou baie konsert en maak die mense lag,,” vertel sy nostalgies. 

Dis in hierdie tyd wat sy deel vorm van die Brümilda van Rensburg-agentskap en  ‘n rol losslaan in Binnelanders as ‘n verpleegster. Dis egter toe wat sy ook besef dat die verhoog haar eerste liefde is.  

“Aan die einde van 2017 verkoop ek alles wat ek besit – kar, TV, mikrogolf, meubels én Karbinna Entertainment om oorsee te toer. Ek is vir drie maande in Dubai en toe eindig ek op as ‘n Foreign Teacher’s Manager in China. Dis in hierdie tyd wat ek deeltyds begin ernstig skryf.  Ek skryf as ‘n ghostwriter vir oorsese publikasiehuise, meestal kinderboeke. My stories verkoop goed en beland op Amazon se topverkoperlyste,” vertel sy.  

En dis tóé dat sy haar eerste kinderboek self-publiseer “Amadeus die Reisiger: Tafelberg”.  

Gedurende 2020 keer sy terug na Suid-Afrika en tydens inperkings skryf sy sommige dae tot 20 000 woorde. Met kliënte van reg oor die wêreld besef sy toe sy is nie net lief vir skryf nie, maar dat sy dit ook kan doen vir ‘n inkomste. Daarna volg nog ‘n kinderboek “Milly & Mark” wat later in Afrikaans vertaal word na “Millie en Markie”. Haar mees onlangse kinderboek is “Karel die Koddige Kersboom”.   

Maar dis wanneer sy op die verhoog is wat sy blom. En dis veral die dames wat aanklank vind by haar.  

“Hulle soek ‘n uitgesproke vrou wat vir hulle opstaan en dit wat hulle voel in woorde kan omsit. Maar alhoewel vroue my teikenmark is – stap die mans, wat saamgesleep word deur hul vrouens weg as groter aanhangers,” vertel sy nederig.   
 
Sy erken ook vinnig daar is wel twee kante aan haar: die komediant met die konserte wat toeganklik is vir meeste en dan die praatjie-kant waar ek bietjie meer ernstig praat oor seksisme en vrou-wees.   

 “Elke keer as ‘n konsert uitverkoop is ek verstom en is dit ‘n hoogtepunt! Ek kon nie glo toe 400 mense my eerste show by die Atterbury kom kyk het nie. Daai gevoel is onbeskryflik,” vertel sy oor haar hoogtepunt.  

Sy voeg vinnig by dat ‘n verskyning op Bravo!, kykNet, en haar onderhoud op The Drive with Roz & Rob op Jacaranda FM ook op haar lys van hoogtepunte is.  

En die trolle op sosiale media kan maar weet – Mel glo nie in ‘stilbly’ nie.  

“Ek kies my battles en ek sal opstaan vir myself sonder om terug te boelie – ek doen dit gewoonlik met humor of soms meer ernstig. Solank my profiel oorhoofs positief is, wil ek tog vir mense wys dat dit okay is om op te staan vir jouself en nie stil te bly of net altyd te ignoreer nie. Want as ons in die regte lewe geboelie word – kan jy nie net daar sit en dit vat nie, dis onmoontlik,” vertel sy.  

“Ek dink ook nie dis gesond om te maak dat internet-trolle mens nie affekteer nie, 90% van die kommentare kan ek afvee, maar daar is sommiges wat my ontstel en dan tree ek op daarvolgens hopelik meestal rasioneel en sonder om lelik te raak. Ek wil altyd probeer om ‘n voorbeeld te wees. Net probeer – maar niemand is perfek nie.” 

Mel het wel die perfekte resep beet en die nasie is mal oor haar.    

Interessante brokkies wat niemand van Mel die Storieverteller weet nie: 

1. Tolla van der Merwe en Nataniël is van haar grootste invloede. “Ek het hulle stories uit my kop uit geleer toe ek op skool was en dit vir my vriende en familie opgevoer.”   
2. Sy bied skrywerswerkswinkels aan vir skole  
3. Haar regte haarkleur is vuilmuisbruin  
4. Sy was al in 19 lande, is mal oor toer… en sal alles weer verkoop om net die wêreld te kan sien.  
5. Sy en haar verloofde, Ronald, het ontmoet op Hinge (‘n maatsoek-toep) ‘n maand nadat sy besluit het sy gaan enkellopend wees vir die res van haar lewe. Hy het gesukkel om ‘n eerste afspraak te kry, maar vandag is sy baie bly sy het ingegee. “Want hy is die perfekte pasmaat en lewensmaat wat ek ooit voor kon vra.”   
6. Sy wil graag ‘n Kwêla- of Bravo-aanbieder wees.   
7. Sy is ‘n entrepreneur en ‘n goeie besigheidsvrou wat hou van onderhandel en planne maak.   
8. Sy sê maklik “nee” vir groot aanbiedinge of kontrakte, want as iets nie by Mel die Strorieverteller pas nie, sal sy nie daarmee assosieer nie.  

  • Luister gerus na haar potgooi “Dinner en Skinner”. Maak jou reg vir ‘n onvergeetlike ervaring vol lag, geselskap en unieke menings met gasheer en -vroue Mel die Storieverteller, Jou Saffa Mamma en Edó! Eerlik, pretensieloos en skreeusnaaks. Die verfrissende span bring jou ‘n opwindende mengsel van opregtheid, humor en wêreldkennis. Beskikbaar op YouTube en Spotify.

Share this article

Recent News

Alba Vorster ontplof soos ‘n TYDBOM met nuwe Afrikaanse snit   
01Dec

Alba Vorster ontplof soos ‘n TYDBOM met nuwe…

(1 Desember 2023) Die jong Suid-Afrikaanse sangeres Alba Vorster is…

Boodskap op die Radio – Die Bokkies  
01Dec

Boodskap op die Radio – Die Bokkies  

(1 Desember 2023) (Louis van den Berg, Nadine Blom, Loki…

Dis partytjietyd met Martin Bester se Boerepop”!  
01Dec

Dis partytjietyd met Martin Bester se Boerepop”!  

(1 Desember 2023) Een ding waarvan elke Afrikaanse musiekliefhebber seker…