Fresh out of the Zoo

(30 Junie 2023)

Ten spyte van die lewe se uitdagings en teleurstellings, glo die sanger en liedjieskrywer Ruan Jordaan dat elke mens geroep is vir ʼn spesifieke doel en dat ʼn mens moet bly vertrou op die Here dat jou lewenspad sal lei waarheen dit van jou geboorte af bestem is. 

Dit was die inspirasie vir sy jongste enkelsnit, Gebore vir Kuns. Die liedjie is uit Ruan se eie pen. Die sanger het self in sy musiekloopbaan tot dusver talle teleurstellings, gebrokenheid en valse hoop en beloftes ervaar en glo die liedjie is iets waarby baie luisteraars sal aanklank vind. 

“Ek het al baie kere die musiekbedryf as ʼn ondankbare omgewing ervaar waar mens nie regtig waardeer voel nie. ʼn Mens ry duisende ure op vreemde paaie vir ʼn paar sente en soms raak mens uitgeput in jou gees, maar my liefde vir musiek oorwin dit alles,” sê die sanger. 

Hy is geïnspireer om Gebore vir Kuns te skryf toe hy opnuut besef die Here is besig met ʼn kunswerk in sy lewe en dat Hy hom sal help om dit te voltooi op Sy tyd – die regte tyd. 

“Soos ons almal weet is daar ʼn tyd en plek vir alles. Daar is sodoende tye in ons lewens waar ons oppervlakkigheid bietjie eenkant kan sit en dieper binne onsself delf. Dis soms moeilik om daardie emosies en gevoelens in die oë te staar, maar dis juis waar ons onsself kan genees.” 

Dit is vir die kunstenaar belangrik dat Gebore vir Kuns luisteraars sal motiveer om vas te hou aan hulle drome en te bly vertrou op die Here se leiding, maak nie saak hoeveel struikelblokke daar soms is nie. Ruan droom daarvan om sy musiek eendag op internasionale platforms te deel en wil die wêreld plat toer met sy talent vir musiek en stories. 

ʼn Vollengte musiekvideo vir GEBORE VIR KUNS is nog in die beplanningsfase, maar ʼn treffende visuele uitbeelding van die liedjie wat dien as lusmaker sal binnekort op alle sosiale media platforms gedeel word. 

Ruan het die top-ses van die talentsoekprogram “Die Kontrak 2” behaal en hy tel dit as een van die hoogtepunte van sy loopbane tot dusver. 

MEER OOR DIE KUNSTENAAR: 

Ruan Jordaan is sedert 2017 professioneel betrokke by die musiekbedryf. Hy het as kind reeds ʼn liefde vir musiek ontwikkel en glo dat hy in die moederskoot al geroep is om homself deur musiek uit te leef. 

Ruan beskryf homself as ʼn diep mens wat tegelykertyd kompleks en eenvoudig is en wat geneig is om dinge te oordink. 

Kunstenaars soos Dermot Kennedy, Noah Gundersen, Lewis Capaldi, Ed Sheeran, Dean Lewis, Calum Scott en James Bay is slegs ’n paar voorbeelde van die musiek waarna hy luister en voor lief is. 

Ruan se inspirasie kom vanaf verskeie plekke en is altyd verskillend. Dit is ook vir hom belangrik dat sy musiek ’n storie moet vertel en betekenisvol moet wees. 

Hy beskryf sy musiekstyl as diep en treffend. 

Ruan het reeds ʼn paar enkelsnitte agter sy naam, soos STILSTAANTYD, VEGTER, MEER AS GEREED en VEILIG TUIS. 

Hy het in die top-ses van die talentsoekprogram Die Kontrak 2 geëindig. Hy het ook die kykNET-leefstylprogram Ontbytsake se liedjieskryfkompetisie gewen met die liedjie RUG TEEN RUG. Nog ʼn liedjie wat hy saam met Nadine Fedeli geskryf het getiteld WINTERHART, het ook in ʼn ander kategorie gewen. 

Ruan was ook ʼn gas op kykNET se 4×4 met André en was verantwoordelik vir die temalied vir twee episodes wat vir die program gebruik is. 

Hy is ook betrokke by die inisiatief vir onafhanklike kunstenaars, Rug Teen Rug. Dié inisiatief is vernoem na Ruan se wenliedjie en beplan om binnekort nog musiek in samewerking met die program uit te reik. 

Share this article

Recent News

Alba Vorster ontplof soos ‘n TYDBOM met nuwe Afrikaanse snit   
01Dec

Alba Vorster ontplof soos ‘n TYDBOM met nuwe…

(1 Desember 2023) Die jong Suid-Afrikaanse sangeres Alba Vorster is…

Boodskap op die Radio – Die Bokkies  
01Dec

Boodskap op die Radio – Die Bokkies  

(1 Desember 2023) (Louis van den Berg, Nadine Blom, Loki…

Dis partytjietyd met Martin Bester se Boerepop”!  
01Dec

Dis partytjietyd met Martin Bester se Boerepop”!  

(1 Desember 2023) Een ding waarvan elke Afrikaanse musiekliefhebber seker…