Fresh out of the Zoo

(30 Junie 2023)

Hugh Lynn is deesdae meer gereeld op Afrikaanse musiekluisteraars se lippe – en met sy splinternuwe enkelsnit, As Jy Kan Braai, is hy beslis vinnig op pad na al wat ʼn lekker-kuier-speellys is.
As Jy Kan Braai is ʼn pop-rock liedjie uit Hugh se eie pen. Hy het die liedjie self geskryf, getoonset en vervaardig.
Dié liedjie is geïnspireer deur die verskille tussen ʼn stadsjapie en ʼn plaasjapie. Die stadsjapie probeer om ʼn plaasmeisie te beïndruk met die stappe wat sy neergelê het, maar is onsuksesvol. Aan die einde van die storie het hulle buitendien verlief geraak, verduidelik Hugh die tema van die liedjie.
“Dit is vir my ʼn humoristiese onderwerp wat stadsouens mee sal kan vereenselwig,” sê Hugh.
Hugh glo luisteraars sal aanklank vind by die onderwerp van As Jy Kan Braai juis omdat daar soveel stadsjapies ter wêreld is.
“Ek glo mense sal van die storie hou. Dit het ook ʼn baie prettige klank en die polsende ritme sal jou lus maak vir dans en ʼn breë glimlag op jou gesig sit,” sê Hugh.
Met die musiekvideo het Hugh besluit om iets anders te doen as wat mense sou verwag. Nykie Pretorius van Op my eish-faam vertolk die vrouehoofrol in die musiekvideo.
“Almal wat die liedjie gaan hoor gaan verwag dat ek die stappe suksesvol kan uitvoer, maar dit is toe nie so nie. Ek het besluit om soos die ergste vorm van ʼn stadsjapie voor te kom waarop die meisie in elk geval verlief raak.”
Hy droom daarvan om gereeld ʼn treffer uit te reik en dat sy liedjies topspeellyste soos dié van Apple en Spotify sal haal.
As Jy Kan Braai is sy vierde Afrikaanse enkelsnit in 9 maande en in sy onlangse vrystelling is sy vertolking van die treffer Cry To Me, oorspronklik gesing deur Solomon Burke.
Hy het die Afrikaanse musiekindustrie betree met sy enkelsnit Hand Om Die Lyf (https://www.youtube.com/watch?v=vpwaYku-FDE), gevolg deur My Droommeisie (https://www.youtube.com/watch?v=n1I966FrQXM) en Tipsy Verby (https://www.youtube.com/watch?v=QLwh2GtNLpA).

Meer oor die kunstenaar
Hugh Lynn is al vir agt jaar lank ʼn liedjieskrywer en tree die afgelope vier jaar professioneel op.
Hugh het op hoërskool begin musiek skryf en het in die skoolkoor en -revue opgetree as hoofsanger.
Hy het na skool ʼn drie jaar voltydse diploma voltooi waarna hy ʼn verdere twee jaar lank studeer het vir ʼn B. SC-graad in klankingenieurswese.
Hy het ook graad 8 in kitaarlesse voltooi en bespeel ook die klavier en tromme. Sy studies het hom die vermoë gegee om musiek te kan skryf en toonset, wat hom nou in die posisie plaas om sy eie musiek te kan vervaardig.
Riaan Benadé, Elandré en Bernice West is kunstenaars saam met wie hy graag wil werk.
Hugh put inspirasie vir sy musiek uit persoonlike ervarings en gebeurtenisse waarmee hy empatiseer. Dit is vir hom belangrik om liedjies te skryf waarmee luisteraars kan vereenselwig.
Hy beskryf sy musiekstyl as pop-rock met ʼn onverwagse diep stem.
Hugh is tans besig met ʼn paar nuwe liedjies en nadat hy by Muse Studios ingetrek het, is hy gereed om aansienlik meer inhoud met die wêreld te deel.

Share this article

Recent News

Alba Vorster ontplof soos ‘n TYDBOM met nuwe Afrikaanse snit   
01Dec

Alba Vorster ontplof soos ‘n TYDBOM met nuwe…

(1 Desember 2023) Die jong Suid-Afrikaanse sangeres Alba Vorster is…

Boodskap op die Radio – Die Bokkies  
01Dec

Boodskap op die Radio – Die Bokkies  

(1 Desember 2023) (Louis van den Berg, Nadine Blom, Loki…

Dis partytjietyd met Martin Bester se Boerepop”!  
01Dec

Dis partytjietyd met Martin Bester se Boerepop”!  

(1 Desember 2023) Een ding waarvan elke Afrikaanse musiekliefhebber seker…