Fresh out of the Zoo

(26 Mei 2023)

Die Suid-Afrikaanse sangsensasie Tarryn Lamb se jongste enkelsnit getiteld, Hoor Jy My, is ‘n kragtige ballade waarin aanhangers weer haar formidabele stem sal kan geniet terwyl hul meegesleur word met die dieper betekenis agter die liedjie.
Hoor Jy My is geskryf deur die musikant en liedjieskrywer Frank Freeman. Die liedjie het ontstaan uit ‘n vraag – hoe vergelyk ‘n oomblik teenoor die konteks wat tyd ons gee?
“Die liedjie beskryf hoe dit wat ‘n mens soms voel in ‘n oomblik, nie is wat jy dink dit is nie, maar dat jy ten spyte daarvan slegs in die oomblik kan leef,” het Frank verduidelik.
Tarryn het die liedjie gekies, want dit laat haar dink aan hoe dit nou is vir ons mense wat die afgelope paar jaar deur soveel lewensveranderinge en persoonlike, moeilike tye moes gaan.
“Soms voel ‘n mens so alleen in jou struikeling, want ons almal weet en verstaan dat elke persoon net probeer om die beste maak van die lewe, om sterk te staan en net die beste wil maak van alles en die beste hê vir almal wie ons lief het en meer omgee vir almal te gee,” sê Tarryn.
“Ek dink die vreesaanjaendste gevoel is wanneer ons iets aanvaar waar ons voel asof niemand ons kan hoor of verstaan nie. Miskien is dit soms die maskers wat ons almal dra om vir ons geliefdes of die wêreld te wys ons is oukei.”
Hoor Jy My praat met Tarryn se hart en sy glo dit sal ook met luisteraars se harte praat.
“Elke keer as ek die liedjie sing, voel ek ‘n groot ontlading van iets wat baie swaar was vir my, iets wat ek nie eers geweet het ek dra nie.”
Die musiekvideo vir Hoor Jy My is steeds in die beplanningsfase. Die sangeres sien die video as ‘n uitdaging, aangesien sy wil hê dit moet soos ‘n rolprent afspeel om die storie van die liedjie te vertel.
Tarryn sonder haar onlangse vertoning saam met die ikoniese kunstenaar Amanda Strydom as ‘n groot hoogtepunt in haar loopbaan uit.
Sy het saam met Amanda en ‘n rits ander groot name in die bedryf op die verhoog gestaan tydens die onlangse Suidoosterfees.
“Dit was vir my ‘n volsirkel-oomblik, want toe ek in gr. 10 was het my hoërskoolonderwyser my na my eerste lewendige optrede geneem en dit was Amanda Strydom se eenvrouvertoning, State of the heart. Ek is weggeblaas deur haar manier van storievertelling deur haar musiek.”
Tarryn en Frank is tans besig met die ontwikkeling van die teaterproduksie, Busrit in die aand, wat in klein teaters en op feeste te sien sal wees.
“Ek sien uit na hierdie produksie, want ek kry die geleentheid om meer kitaar te speel en stories te kan vertel in ‘n intieme ligging.”
Meer oor die kunstenaar:
Tarryn Lamb is al van die ouderdom van 17 voltyds in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf besig. Sy sê die Here, die lewe, haar familie, die natuur, mense, ervarings, liefde, seerkry en hoop inspireer haar om te skryf en sing.
Alle genres van musiek inspireer haar en sy is mal oor kunstenaars wat die kwesbaarste is deur die manier hoe hulle skryf en sing. Sy sonder Dean Lewis, John Mayer, Pink en Aerosmith uit as gunstelinge.
Sy beskryf haar stem en styl as pop, met ‘n spatsel country.
Wanneer sy nie in die ateljee besig is om nuwe musiek op te neem en te skryf nie, is sy op die stel van die televisieprogram, Die Kontrak 3, besig waar sy as mentor vir voornemende sangers optree.
Sy is ook nog besig om regoor die land op te tree en is ook besig om nuwe musiek op te neem. ‘n Engelse album vir die internasionale mark is ook vir later vanjaar in die beplanning.

Share this article

Recent News

Alba Vorster ontplof soos ‘n TYDBOM met nuwe Afrikaanse snit   
01Dec

Alba Vorster ontplof soos ‘n TYDBOM met nuwe…

(1 Desember 2023) Die jong Suid-Afrikaanse sangeres Alba Vorster is…

Boodskap op die Radio – Die Bokkies  
01Dec

Boodskap op die Radio – Die Bokkies  

(1 Desember 2023) (Louis van den Berg, Nadine Blom, Loki…

Dis partytjietyd met Martin Bester se Boerepop”!  
01Dec

Dis partytjietyd met Martin Bester se Boerepop”!  

(1 Desember 2023) Een ding waarvan elke Afrikaanse musiekliefhebber seker…