Fresh out of the Zoo

(14 April)

In Alouise Peens se debuutenkelsnit as solokunstenaar, Dis Jy, maak sy hart oop oor haar gevoelens van jaloesie en verlange wanneer sy nie naby haar geliefde kan wees nie. 

Dis Jy is ‘n rou en eerlike, akoestiese-popliedjie uit Alouise se eie pen. Alouise is ‘n bekwame musikant wat bekend is as musikant in onder meer Bok van Blerk se orkes. 

In Dis Jy sing sy oor hoe alles naby aan die persoon vir wie sy lief is kan wees, behalwe sy self.  

“Dit is meer soos ‘n tipe verlange wat ek ervaar wanneer ek nie by my geliefde kan wees nie en ek is jaloers op alles en almal wat na aan die persoon kan wees. Ek het besef dat mens alledaagse goed vanselfsprekend aanvaar en dat ‘n mens jaloers is op daardie goed.” 

Die liedjie is tydens die inperking weens die pandemie geskryf. Sy is geïnspireer deur die wêreld se gebruik van sosiale media en hoe mense daarop staatgemaak het om verbind te voel. 

Alouise sê sy het darem die twee goed wat sy altyd by haar het – haar kitaar en haar hondjie, Logic – tydens die pandemie by haar gehad om haar deur te dra. 

Alouise sê dit was belangrik om eg te wees met die lirieke, aangesien dit haar eerste enkelsnit is. Dit moet luisteraars laat dink aan iemand wat vir hulle spesiaal is en na spesiale tye vervoer. 

“Mense moet dink aan die spesiale tye, liedjies wat vir hulle spesiaal is en die TikTok-videos en Instagram-inskrywings wat hulle saam gemaak het. Ek wil hê hulle moet glimlag as hulle na die liedjie luister en dan vir iemand daarvan vertel.” 

Alouise is al vir jare doenig in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en betree nou die voorgrond met hierdie enkelsnit. 

“Ek wil hê mense moet my hart hoor en hoor hoe Alouise klink. Ek het vir jare aan ander mense se drome gebou en dit is nou bietjie my beurt.” 

Daar is ‘n hele paar liedjies wat wag om die lig te sien. Sy is lief vir skryf en sy deel haar hart met mense deur haar musiek. 

Die musiekvideo vir “Dis Jy” vang die storie van die liedjie vas in ‘n styl wat Alouise se uniekheid uitbeeld. 

“Alles van Alouise is swart en wit, so dit is wat ons gedoen het,” verduidelik die kunstenaar. 

Sy en Zander de Beer het saam die konsep van die musiekvideo geskep. Dit is by Hemels Café geskiet in ‘n spierwit Licht-ateljee. Wat dit uniek maak is die swart en wit voorkoms, wat dit ’n sagtheid gee met speelse kleurelemente wat jou twee keer sal laat kyk. 

Alouise en Zander het saam die konsep asook venue vir die musiekvideo gekry en daarna het Alouise die storielyn en skote uitgewerk en die draaiboek geskryf. 

Amorie Pearson het die foto’s geneem en Alouise se grimering gedoen. Anuschka Jacobs het die kostuumafdeling behartig. 

Alouise is ook ‘n sakevrou met haar eie aanlyn onderneming en ‘n kranige fietsryer wat al tien keer die Cape Argus-fietstoer voltooi het. Alouise bespeel ook ‘n verskeidenheid instrumente, insluitend die tromme, baskitaar, elektriese kitaar, akoestiesekitaar, ukelele en klavier. 

“Hierdie is net die begin,” sê Alouise. 

Meer oor die kunstenaar: 

Alouise Peens is gebore en getoë in Bethlehem in die Vrystaat. Sy is die jongste van drie sussies. 

Sy het groot geword onder haar ma se klavier en haar liefde vir musiek het beslis daar vlamgevat. Sy het as driejarige begin orrel en klavier speel en daarna het sy haar sussie se kitaar gesteel en haarself begin leer. 

Alouise is reeds 13 jaar in die musiekbedryf besig. Sy het in 2010 saam met die orkes Onbeskaamd begin speel en daarna Pretoria toe getrek om haar droom te volg. 

As multi-instrumentalis geniet Alouise dit om saam met verskillende mense musiek te maak. Sy het al saam met groot name in die bedryf gewerk en ontmoet. Sy speel ook al vir vyf jaar die baskitaar in Bok van Blerk se orkes. 

Lize Beekman, Karen Zoid, Christa Steyn, Laurika Rauch en Sara Bareilles tel onder die kunstenaars wat vir Alouise inspireer. 

Gerrie en Annelize Pansegrouw is haar musiekmentors asook Jaco Smit, Murray Lubbe, Floors Oosthuizen, Gerrit (Stass) Jansen van Veuren, Rixi Roman , Denny Lalouette en nog vele meer.  

Alouise kyk ook op na al die vroue in die vermaakbedryf. 

Vir Alouise is dit belangrik om eerlik te wees oor wie sy is en hoe sy klink, daarom is sy nouliks betrokke by die vervaardiging van haar musiek. 

Haar inspirasie kom van allerdaagse gebeurtenisse, goed of sleg. Sy som haar stem en musiekstyl as eerlike, Afrikaanse popmusiek op en verklap dat ‘n paar Engelse snitte dalk mag volg. 

Alouise het ook ‘n Ghoema-toekenning in die sakkie. Sy het die prys saam met die span van die kinderprojek Buster & Bella losgeslaan as musiekvervaardiger- en ingenieur vir dié projek. 

Sy is ook ‘n musiekonderwyser en werk agter die skerms op produksiestelle van televisieprogramme soos Noot vir Noot, Musiek Roulette en Die Kontrak. 

Alouise het in Nashville, VSA, by die Blue Bird Café een van haar liedjies, Small Little Spoons, wat sy vir haar sussie geskryf het gesing. Sy tel dit as een van die grootste oomblikke van haar lewe. 

Die kunstenaar is passievol oor bewusmaking van geestesgesondheidsprobleme en wil help om die stigma te verbreek dat daar nie oor geestesgesondheid gepraat moet word nie. 

Vir haar is musiek die polsslag van die lewe en kan sy nie wag om haar musiek te deel nie. 

Share this article

Recent News

Alba Vorster ontplof soos ‘n TYDBOM met nuwe Afrikaanse snit   
01Dec

Alba Vorster ontplof soos ‘n TYDBOM met nuwe…

(1 Desember 2023) Die jong Suid-Afrikaanse sangeres Alba Vorster is…

Boodskap op die Radio – Die Bokkies  
01Dec

Boodskap op die Radio – Die Bokkies  

(1 Desember 2023) (Louis van den Berg, Nadine Blom, Loki…

Dis partytjietyd met Martin Bester se Boerepop”!  
01Dec

Dis partytjietyd met Martin Bester se Boerepop”!  

(1 Desember 2023) Een ding waarvan elke Afrikaanse musiekliefhebber seker…