Fresh out of the Zoo

(24 Maart)

Die bekende Afrikaanse sanger en musikant Jakkie Louw trek ‘n splinternuwe, kleurvolle baadjie vir die bekende Zoeloe-liedjie, Vuli Ndlela, aan. 

Vuli Ndlela is oorspronklik in 1997 deur die ikoniese Suid-Afrikaanse sangeres, Brenda Fassie, uitgereik. 

Die liedjie handel oor ‘n ma wat sê: Maak die deur oop, my kind trou vandag! 

“Ek het een van die verse in Afrikaans vertaal sodat my Afrikaanse gehoor kan verstaan waaroor dié ongelooflike mooi liedjie werklik gaan,” vertel Jakkie, wat tans self besig is om Zoeloe-klasse te neem. 

“Die liedjie handel oor ‘n ma wat vra vir mense om op te hou skinder oor haar kind wat net wil trou. Laat hom gaan, sê die lirieke.” 

Die oorspronklike liedjie is elektronies opgeneem, maar die Jakkie Louw Band skep ‘n meer feesagtige atmosfeer met Vuli Ndlela. 

Jakkie se nuwe weergawe van Vuli Ndlela is ‘n African Jazz-snit gemeng met ‘n goeie skeut Jakkie Louw in Afrikaans. 

Die liedjie is oorspronklik geskryf deur Brenda Fassie en Ernest Sello Twala, terwyl deur Gordie Sampson, Hillary Lindsey en Steven McEwan saam met Jakkie aan die nuwe weergawe gewerk het. 

Na die sukses van Jakkie se liedjie, “When Africa smiles”, wat in 2021 uitgereik is, het konsertgangers gereeld kom aanklop om te vra of hy nie Vuli Ndlela kan sing nie. Jakkie het besef dié liedjie is vir baie Afrikaanse mense ‘n gunsteling, maar dat hulle nie die lirieke verstaan nie. 

“Hierdie is my manier om mense nader aan mekaar te bring. Hierdie weergawe van Vuli Ndlela deur die Jakkie Louw Band is die klankbaan van ‘n beter, vriendeliker en liefdevolle Suid-Afrika. Ons almal is hier in Suid-Afrika om te bly tot ons tyd klaar is. Ons kan dit netsowel voluit geniet en dans op feestelike musiek,” sê Jakkie. 

Die musiekvideo vir Vuli Ndlela is in Stellenbosch in die Wes-Kaap by die Sunset Recording Studio, teen die son wat sak, geskiet. 

Die jong seun en dogter in die video word vertolk deur Lana en Cade Hoffman.  

Die musiekvideo is by die musieksentrum op Stellenbosch geskiet. “Ons het Victoriastraat gekies oor dit die paaie is wat ek moes stap tot hier. Die Stellenbosch-moedergemeente is ook baie in die skote, omdat ek uit ‘n dominee se huis kom en musiek het maar altyd uit ‘n kerkverband gekom.” 

Vuli Ndlela is vervaardig deur Hiram Koopman, wat saam met Jakkie die liedjie “When Africa Smiles” geskryf het. Jürgen van Wechmar van Sunset Recording Studios het die opname behartig. 

Die musikant beplan om vanjaar die land plat te toer met Vuli Ndlela, om sodoende die boodskap van hoop en feesviering oor die land heen te bring. 

“As ek sien hoe mense se gesigte straal terwyl ek die liedjie sing, kan ek net dink hoe mense se harte sal sag raak in die verkeer as dit oor die radio speel.” 

Meer oor die kunstenaar 

Jakkie Louw het op 15-jarige ouderdom homself leer kitaar speel nadat sy ouer broer, Frikkie Louw, op die ouderdom van 18 oorlede is. 

Hy beskryf die kitaar en lirieke as sy persoonlike sielkundige. Hy het van kleins af ‘n liefde vir goeie musiek, veral dié van Pearl Jam, Nirvana, Metallica, Counting Crows, Live, REM, Collective Soul, Sting en Cat Stevens. 

Jakkie vier vanjaar sy 25ste jaar as professionele kunstenaar. Hy kyk op na Koos Kombuis, Bruce Springsteen en Dave Matthews. 

Volgens Jakkie is dit die menswees agter lirieke, en die eerlikheid en passie in liedjies, wat hom inspireer. 

Johann Sebastian Bach, Tracy Chapman, Damian Rice, Chris Stapelton en Kurt Cobain tel ook onder sy musikale inspirasies. 

Jakkie beskryf sy stem en musiekstyl as uniek en energiek. Hy het jare gelede gesukkel met angstigheid voor sy optredes, maar sy geloof het hom hiermee gehelp. 

“Talent is nie so belangrik soos harde werk nie,” sê Jakkie oor wat hy al geleer het in die musiekbedryf. 

“Dit is bitter moeilik om iemand te wen wat nooit opgee nie. Mense daar buite wil jou ondersteun. Gee hulle ‘n rede en gee hulle dan die kans.”  

Share this article

Recent News

Alba Vorster ontplof soos ‘n TYDBOM met nuwe Afrikaanse snit   
01Dec

Alba Vorster ontplof soos ‘n TYDBOM met nuwe…

(1 Desember 2023) Die jong Suid-Afrikaanse sangeres Alba Vorster is…

Boodskap op die Radio – Die Bokkies  
01Dec

Boodskap op die Radio – Die Bokkies  

(1 Desember 2023) (Louis van den Berg, Nadine Blom, Loki…

Dis partytjietyd met Martin Bester se Boerepop”!  
01Dec

Dis partytjietyd met Martin Bester se Boerepop”!  

(1 Desember 2023) Een ding waarvan elke Afrikaanse musiekliefhebber seker…